Agt dood, 20 word vermis ná kano in twee skeur

Vissersbote op Kivumeer (2009) (Foto: Steve Evans van Citizen of the World – Congo: Lake Kivu via Wikimedia Commons)

Minstens agt mense het verdrink en 20 word vermis ná hul motorgedrewe kano in twee geskeur het op Kivumeer in die Demokratiese Republiek van die Kongo.

Die groot meer, op die grens van Rwanda en die DRK, is een van talle waterweë wat gereeld gebruik word in ʼn groot land waar die paaie nie altyd begaanbaar is nie. Daar is egter gereeld bootongelukke weens weersomstandighede wat vinnig verander met golwe wat teen oorlaaide houtbote slaan. Veiligheidsreëls word ook gereeld verontagsaam.

Die goewerneurskantoor van Suid-Kivu-provinsie het gesê daar was Donderdag tydens die voorval agt sterftes. Sestig persone is gered en 20 persone word nog vermis.

Delphin Birimbi, verteenwoordiger van ʼn plaaslike burgerorganisasie, het aan AFP gesê die ou kano was oorlaai en het in twee geskeur.

Sowat 100 mense is in 2019 dood tydens ʼn ongeluk op die meer. Pres. Felix Tshisekedi het in daardie stadium lewensreddersbaadjies vir alle passasiers verpligtend gemaak. Daar is egter min oranje lewensreddersbaadjies te sien op kano’s in die Kivumeer.

Tshisekedi het die families van die slagoffers besoek en nuwe bote belowe, maar geen nuwe bote is tot dusver aangeskaf nie. Die staatshoof het ook onderneem om vier hawens by die meer te rehabiliteer. Provinsiale owerhede het onlangs konstruksiewerk in Kalehe verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andre ·

Ek het self daar gewerk in 1997 en 1998. Dit is n groot meer en ongelukkig kan die meeste mense op die bote nie swem nie. Tragies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.