Agt dood wat mense wou inlig oor ebola

Dokter voor ʼn ebola-sentrum in Kailahun, Sierra Leone (Augustus 2014) Foto: Sylvain Cherkaoui Cosmos/Dokters Sonder Grense

Dokter voor ʼn ebola-sentrum in Kailahun, Sierra Leone (Augustus 2014) Foto: Sylvain Cherkaoui Cosmos/Dokters Sonder Grense

Agt mense wat besig was met ʼn ebola-bewusmakingsveldtog, is dood aangetref nadat paranoïese inwoners hulle in Guinee ontvoer het.

Die slagoffers, waaronder plaaslike joernaliste en plaaslike gesondheidsbeamptes, se liggame is in Womey opgespoor nadat hulle twee dae vantevore gewelddadig ontvoer is. Die afvaardiging is Dinsdag met klippe bestook voor die ontvoering.

Slegs een van die ontvoerde slagoffers kon ontsnap.

Die liggame is uit ʼn septiese tenk by ʼn laerskool gehaal, het Albert Camara, woordvoerder vir die Guinese regering, gesê.

Ses mense is glo reeds in verband met die voorval in hegtenis geneem.

Talle inwoners in die platteland reageer uit vrees en paniek wanneer buitestaanders bewusmakingsveldtogte wil hou. Gesondheidsklinieke is ook al aangeval. Talle Guineërs glo plaaslike en buitelandse gesondheidswerkers is deel van ʼn sameswering wat óf doelbewus die ebola-uitbreking veroorsaak het óf dit ontwerp het as ʼn manier om Afrikane na klinieke te lok om hul bloed en organe te oes.

“Betogers het die afvaardiging, onder leiding van goewerneur Lancei Conde met klippe bestook en met stokke aangeval,” het lt. Richard Haba, woordvoerder van die polisie, aan AFP gesê. Hy sê die betogers is van mening die afvaardiging is daar om hulle dood te maak, “want hulle glo ebola is ʼn uitvindsel van witmense om swartmense dood te maak”.

Die eerste ebola-gevalle is in die begin van die jaar in Guinee aangemeld en 600 Guineërs is reeds dood. Meer as 2 600 mense is reeds in Wes-Afrika aan ebola dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hennie ·

Die “Natuur” het verskillende maniere om oorbevolking te bekamp.

Soufie. ·

Los die ongelowiges dat hulle hul eie grafte grawe. Miskien is dit die Skepper se manier, net soos vigs, om die bevolking n bietjie uit te dun. Mense het nie soos in die natuur n voedsel ketting nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.