Agt gevonnis oor Banksy-diefstal

Argieffoto van die kunswerk deur Banksy wat by die Bataclan in Parys in 2019 gesteel is (11 Junie 2020) (Foto: Filippo Monteforte/AFP)

ʼn Hof in Frankryk het Donderdag agt mans skuldig bevind op aanklag van diefstal en die hantering van ʼn Banksy-skildery wat hulde gebring het aan die slagoffers van ʼn aanval in 2015 op die Bataclan-konsertsaal in Parys.

Drie mans in hul 30’s, wat skuld beken het op aanklag van die diefstal in 2019, is tronkstraf opgelê. Een is vier jaar tronkstraf opgelê en twee mans is drie jaar tronkstraf opgelê. Hulle sal die tronkstraf met elektroniese spoortoestelle kan uitdien, eerder as om agter tralies te sit.

ʼn 41-jarige miljoenêr-lotery-wenner en aanhanger van straatkuns, wat daarvan beskuldig is dat hy die meesterbrein agter die diefstal was, is drie jaar tronkstraf opgelê vir die hantering van gesteelde goedere. Regters het bevind dat daar nie voldoende bewyse is dat hy die meesterbrein was nie. Hy sal ook sy tronkstraf met ʼn elektroniese spoortoestel uitdien.

Elders in die hoofstad is die verdediging besig met sy slotbetoë in die hofsaak van die verdagtes van die aanvalle. ʼn Uitspraak word op 29 Junie verwag.

Die Britse straatkunstenaar Banksy het sy “hartseer meisie”-stensil-afdruk op die metaaldeur van die Bataclan geverf ter nagedagtenis aan die 90 mense wat op 13 November 2015 daar gesterf het.

ʼn Wit bussie met versteekte nommerplate het op 26 Januarie 2019 in ʼn gangetjie langs die musieksaal stilgehou.

Talle konsertgangers het deur dieselfde gangetjie gevlug toe die Bataclan die brandpunt geword het van Frankryk se ergste aanvalle sedert die Tweede Wêreldoorlog toe ʼn groep Islamitiese djihads 130 mense in ʼn rits aanvalle oor die hoofstad heen doodgemaak het.

Op die oggend van die diefstal het drie gemaskerde mans uit die bussie geklim, die skarniere met ʼn hoekslyper gesny en hulle het binne 10 minute weggery. Die ondersoekende regter het gesê die diefstal is “baie noukeurig” beplan.

Staatsaanklaer Valerie Cadignan het vroeër vandeesmaand aan die hof gesê die oortreders wou nie die nagedagtenis van die slagoffers skend nie, maar hulle was “bewus van die kosbare waarde van die deur en hulle wou net ʼn wins maak”.

Sy sê die diewe “het soos aasvoëls opgetree, soos mense wat voorwerpe steel sonder enige respek vir dit wat dit verteenwoordig”.

Personeel van die Bataclan het tydens die hofsaak gesê hulle was “uiters verontwaardig” oor die diefstal, en gesê die geverfde deur “was ʼn simbool van herinnering wat aan almal behoort het – plaaslike inwoners, Parysenaars, burgers van die wêreld”.

Ondersoekbeamptes het die deur se spoor oor Frankryk en na Italië gevolg waar dit uiteindelik in Junie 2020 op ʼn plaas in Sant’Omero, naby die Adriatiese kus aangetref is.

Drie mans wat die deur vervoer het, is elkeen 10 maande tronkstraf opgelê. ʼn 58-jarige Italianer wat die hotel besit waar dit tydelik gestoor is, is ses maande tronkstraf opgelê wat in sy geheel opgeskort is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Ja, nê, en hier word ‘n hele parlementsgebou amper verwoos en geen haan kraai daarna nie, of enige ander geskiedkundige gebou word asfgebrand en niemand word ooit vas getrek of vervolg nie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.