Agt uit oorstroomde myn gered

Argieffoto

Agt myners, wat by Cricket 3 Mines en Jongwe Mining Co-operative in Battlefields naby Kwekwe, ongeveer 210 km suidwes van Harare in Zimbabwe vasgekeer was, is gered te midde van vrese dat talle ander myners steeds ondergrond vasgekeer is ná die myn Dinsdag oorstroom het.

Die myners is na Kadoma-hospitaal geneem waar hulle behandeling ontvang.

Skagte en tonnels van die twee myne wat met mekaar verbind was, het in mekaar gestort toe ʼn damwal gebreek het weens stortreën in die gebied. Verskeie mynboumaatskappye, insluitend Zimplats, Golden Valley, RioZim en Mrasta het saamgewerk om twee dae lank water uit sewe skagte te dreineer.

Cecilia Chitiyo, voorsitter van die burgerlike beskermingseenheid, het bevestig agt persone is tot dusver gered en nog persone is in die myn vasgekeer. “Ons weet nie hoeveel persone nog ondergronds vasgekeer is en hoeveel van hulle steeds lewe nie,” het sy gesê.

Sy versoek bystand dat die reddingspoging vlot kan verloop. “Ons versoek mynboumaatskappye en individue om ons met mynboutoerusting by te staan wat die reddingspoging kan help.”

Van die myners, wat reeds gered is, het verduidelik hoe hulle die tragedie oorleef het. Simon Moyo, van Shurugwi, het gesê die watervlak het onverwags begin styg en hulle kon nie ontsnap nie, omdat al die roetes oorstroom is. “Ek het nooit gedink ek sou lewend daar uitkom nie. Ek het die afgelope ongeveer vier dae lank in nekhoogte water gestaan. Ek het in daardie vier dae nie geëet of geslaap nie. Ek was verlig toe die watervlak begin daal.”

Die Zimbabwiese regering het die voorval tot nasionale ramp verklaar. Die families van die slagoffers sal elk US$1 000 ontvang vir begrafnisdienste. Die regering het kontant versoek en aangedui dat hy minstens US$200 000 (ongeveer R2,8 miljoen) benodig om die water uit te pomp, die naasbestaandes en reddingspanne te voed, en die slagoffers na hul onderskeie distrikte te vervoer en te begrawe.

Polite Kambamura, adjunkminister van mynbou, het vroeër gesê die myners het in ʼn waterkanaal gewerk wat teenstrydig is met die Wet op Mynbou en Minerale. “Hulle wou die waterkanaal ongeveer 300 m van die skagte blokkeer, maar ʼn vloed het daartoe gelei dat dit oorstroom het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

GM ·

Angswekkend. Sterkte aan die naasbestaandes, en die oorlewendes. Ek kan nie dink dat mens ooit weer dieselfde sal wees na so ‘n nagmerrie-ondervinding nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.