Air Namibia doen aansoek om likwidasie

‘n Vliegtuig van Air Namibia (Foto: Air Namibia/Facebook)

Die sukkelende lugdiens Air Namibia het al sy bedrywighede vanaf Donderdag opgeskort nadat die Namibiese regering besluit het om aansoek om vrywillige likwidasie te doen.

“Alle vlugbedrywighede sal gekanselleer word, en alle vliegtuie sal terugkeer na die basis,” het Air Namibia in ʼn verklaring gesê.

Prokureurs wat Air Namibia en die Belgiese maatskappy Challenge Air SA verteenwoordig, het ooreengekom om die lugdiens te laat likwideer.

Air Namibia het in Desember 2019 in ʼn skikking erken dat hy meer as N$330 miljoen (sowat R338 miljoen) aan Challenge Air skuld, wat hy ingestem het om maandeliks af te betaal.

Die lugdiens se raad het op 3 Februarie bedank.

Die minister van openbare ondernemings, Leon Jooste, het beveel dat alle vliegtuie onmiddellik “om veiligheidsredes” gehok moet word. Hy het ook gesê die lugdiens se “bates moet beskerm word”.

Jooste het gesê belanghebbendes, waaronder vlieëniersverenigings, ondersteun die besluit.

Iipumbu Shiimi, minister van finansies, het gesê die regering het alle opsies oorweeg en ingestem dat likwidasie op lang termyn in die beste belang van die lugdiens is aangesien die land se ekonomie nie meer met stimuluspakkette vir die lugdiens kan volhou nie.

Minstens N$8,4 miljard (sowat R8,5 miljard) is die afgelope tien jaar bestee om die sukkelende lugdiens te red.

Meer as 600 personeellede sal na verwagting hul werk kwyt wees wanneer Air Namibia gelikwideer word. Die regering het gesê alle werknemers sal nog vir 12 maande hul salaris kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

KB ·

Die SAA en die ANC kan leer by Air Namiba/Namibiese regering HOE opgetree behoort te word.

ChrisR ·

Ongelukkig nie……daai land is Meer “corrupt” as SA…….

Anel ·

Land wat bietjie vir homself kan dink. Jammer die spul hier wil nie voorbeeld volg nie. Maar nou ja.

Marita ·

SA regering kan gerus die voorbeeld van die Namibiese regering volg tov die sukkelende SAL!!!! Namibie se regering gee om vir hul landsburgers en al gaan 600 mense hul werk verloor kry hul nog vol salaris vir 12 maande wat hul gaan help om in 12 maande ander werk te soek.

Kokerboom ·

By Air Nam was wolf skaapwagter(politieke inmenging en bevoordeling) maar wyse besluit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.