AirAsia-ramp: Medevlieënier het vliegtuig gevlieg

Die romp van die vliegtuig waar dit op die seebodem lê. Foto: Facebook

Die romp van die vliegtuig waar dit op die seebodem lê. Foto: Facebook

Die AirAsia-vliegtuig wat verlede maand tussen Surabaya in Indonesië en Singapoer verdwyn het, was deur die medevlieënier gevlieg toe dit in die see neergestort het.

“Die vlieënier wat die vliegtuig gevlieg het, was tweede-in-bevel en die kaptein was die toesighoudende vlieënier,” het Mardjono Siswosuwarna, hoofondersoeker van Indonesië se nasionale komitee vir vervoerveiligheid, gesê. Volgens Siswosuwarna was die vliegtuig lugwaardig en dit is binne die nodige grense van gewig en balans bedryf.

AirAsia het intussen bevestig altesaam 72 liggame is al gevind waarvan 56 reeds geïdentifiseer is. Die lugredery het ook bekend gemaak dat vissermanne in Wes-Sulawesi die oorskot van twee mense in die see naby Majene gevind het. Die oorskot is vermoedelik dié van passasiers van Vlug QZ8501.

Die oorskot is na Surabaya geneem om geïdentifiseer te word. Die vissermanne het ook op ʼn sak afgekom in dieselfde area – nagenoeg 1 000 km van waar die vliegtuig van die radar verdwyn het. Die sak het vermoedelik aan een van die passasiers behoort.

Die romp en ander groot dele van die vliegtuig is vroeër die maand gevind en afgeneem waar dit op die Java-seebodem lê. Die vliegtuig se kajuit-stemopnemer en vlugdata-opnemer sowel as die vliegtuig se stertvlerk is ook kort tevore gevind.

AirAsia Vlug QZ8501 het op 28 Desember 2014 tussen Surabaya in Indonesië en Singapoer verdwyn. Die Airbus A320-200 met 162 persone aan boord het verdwyn nadat die vlieënier versoek het om van koers af te wyk weens slegte weersomstandighede.

Lees alle vorige berigte oor Vlug QZ8501 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.