Akio Toyoda nie meer aan stuur van Toyota

Akio Toyoda (Foto: Martin BUREAU / AFP)

Akio Toyoda sal later vanjaar as uitvoerende hoof en president van Toyota, die maatskappy wat sy oupa gestig het, uittree. Die Japanse motorvervaardiger het Donderdag in ʼn verrassende bestuurskommeling bekend gemaak dat die maatskappy se derdegeslag uitvoerende hoof deur Koji Sato vervang sal word.

Sato, voorheen handelsmerkhoof van Toyota en president van die maatskappy se luukse Lexus-handelsmerk, sal nie net as uitvoerde hoof oorneem nie, maar ook as bedryfsbeampte wanneer die maatskappy se veranderinge aan sy uitvoerende struktuur op 1 April in werking tree.

Die 52-jarige Sato is dieselfde ouderdom as wat Toyoda destyds was toe hy in 2009 Toyota se jongste president geword het.

“Hy het ouderdom en eendersdenkende kollegas aan sy kant. Ek verwag dat hierdie span die grense sal versit wat ek nie kon nie,” het Toyoda Donderdag aan verslaggewers gesê.

Toyoda (66) is die kleinseun van die maatskappystigter, Kiichiro Toyoda. Sy pa, Shoichiro Toyoda, was in die 1980’s en 1990’s aan die stuur van Toyota.

Toyoda word deur sommige as ʼn charismatiese leier bestempel nadat hy die familiebesigheid deur ʼn  gehaltebeheer-skandaal gelei het wat hom voor die Amerikaanse kongres om verskoning laat vra het.

Die maatskappy het onder Toyoda se leiding baanbrekerswerk met hibriede motors gedoen. Toyota het ook in Desember 2021 sy verkoopsdoelwit vir elektriese voertuie met 75% verhoog en gesê hy beplan om 30 battery-aangedrewe elektriese modelle teen die einde van die dekade bekend te stel.

Sommige kritici meen egter die maatskappy was stadig om die oorskakeling na battery-aangedrewe enjins te doen terwyl die vraag na lae-emissie-motors toeneem.

“Om verandering te bevorder in ʼn era waarin die toekoms onvoorspelbaar is, moet die bestuurshoof aanhou om op die voorste linies te staan en daarvoor is stamina, energie en passie onontbeerlik,” het Toyoda gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.