Akteur deel nou eer met James Bond

Die Britse prinses Anne en die Britse akteur Daniel Craig. (Foto: The Royal Family/Twitter)

Die Britse akteur Daniel Craig spog nou met dieselfde eer as wat sy fiktiewe karakter te beurt geval het.

Craig, wat al sedert 2006 in die spioenskoene van Ian Flemming se ikoniese karakter James Bond staan, is Dinsdag by Windsor-kasteel vereer.

Die 54-jarige akteur wat Bond vir die vyfde en laaste keer in die 2021-rolprent No Time to Die vertolk het, is deur prinses Anne, wyle koningin Elizabeth II se enigste dogter, met die Orde van St. Michael en St. George vereer – dieselfde eer wat sy karakter James Bond te beurt geval het.

Craig het die eer ontvang vir sy buitengewone bydrae tot film en teater.

Die koninklike familie het skertsend op Twitter geskryf dat hulle Craig “verwag” het, ’n tong‑in‑die‑kies-verwysing na die bekende aanhaling wat al telkemale deur ’n Bond-skurk gebruik is.

Dit was nie die eerste keer wat Craig en die koninklikes oor en weer geskerts het nie. In ’n onvergeetlike TV-oomblik het hy tydens die opening van 2012 se Olimpiese Spele in Londen ’n skets saam met koningin Elizabeth II gedoen.

Ná sowat 15 jaar in die rol, tree Craig uit as die akteur wat die rol van die spioen vertolk.

“Ek is ongelooflik dankbaar dat ek die kans gegun is om die rol te vertolk. Al die onbeskryflike herinneringe, om saam met fantastiese, ongelooflike mense te kon werk. Dit het my lewe verander,” het Craig in 2021 aan Reuters vertel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Louis ·

Genade, maar prinses Anne is darem vir jou hoogs aantreklik.????

koos ·

Geluk 007, ek het nie gedink iemand sou Sean se rol ook so goed kon speel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.