Akteurstaking kan Hollywood lamlê

Fran Drescher, president van SAG-AFTRA, tydens ʼn perskonferensie oor die vakbond se besluit om te staak. (Foto: Chris Delmas/AFP)

Groot gedeeltes van die vermaaklikheidsbedryf in Hollywood is Donderdag om middernag tot stilstand geruk toe duisende akteurs amptelik begin staak het.

Die eerste gevolge daarvan kon boonop reeds gesien word by die première van die langverwagte rolprent, Oppenheimer. Florence Pugh, Emily Blunt, Matt Damon en Cillian Murphy, die rolprent se hoofspelers, het ná hul verskyning op die rooitapyt die première onverwags verlaat, selfs voor die rolprentvertoning nog kon begin.

Die staking kom nadat die Screen Actors Guild (SAG-AFTRA), wat sowat 160 000 Hollywood-akteurs verteenwoordig, se onderhandelings met produksiehuise Donderdag ʼn dooiepunt bereik het.

Die vakbond het tevergeefs probeer om ʼn ooreenkoms, wat toekomstige akteurstakings kan vermy, met die produksiehuise te sluit.

v.l.n.r. Matt Damon, Emily Blunt, Cillian Murphy en Florence Pugh by die première van ‘Oppenheimer’ voordat hulle die geleentheid vroeg verlaat het. (Foto: Henry Nicholls/AFP)

Die ooreenkoms handel onder meer oor die bepaling van ʼn beleid wat akteurs teen die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI) sal beskerm, asook oor die kwynende vergoeding wat hulle ontvang. Die vakbond se bemiddelingspan het daarna ʼn staking aanbeveel.

“Hierdie is ʼn geskiedkundige oomblik, ʼn oomblik van waarheid – as ons nie nou opstaan nie, gaan ons almal in die moeilikheid wees,” het Fran Drescher, president van SAG-AFTRA, gesê tydens ʼn mediakonferensie oor die vakbond se besluit om te staak. Drescher word veral onthou vir haar hoofrol in die sitkom, The Nanny.

“Ons gaan almal die risiko loop om deur masjiene en die belange van die sakewêreld vervang te word.”

Die vakbond verteenwoordig veteraanakteurs soos Meryl Streep, Jennifer Lawrence en Glenn Close.

Die akteurs gaan nou saam met Hollywood-skrywers, wat al 11 weke lank staak, aan protesaksies voor die hoofkantoor van stromingsreuse soos Netflix en Disney deelneem.

Die skrywerstaking het reeds ʼn uitwerking op reeks- en rolprentvervaardiging gehad, maar ʼn akteurstaking sal die bedryf lamlê. Dit beteken reusewagtydperke vir nuwe reekse en rolprente, en geen premières of partytjies vir nuwe rolprente nie.

Die vorige akteurstaking was in 1980 en het drie maande geduur.

“Ons is die slagoffers hier. Ons word geteiken deur ʼn baie gierige entiteit. Ek is geskok om te sien hoe die mense met wie ons al jare lank sake doen, ons tans hanteer,” sê Drescher.

Die vakbond voer aan dat die ontwikkelende stromingsbedryf gelei het tot laer vergoeding vir akteurs. Hulle is ook bekommerd dat KI die kreatiwiteitsbedryf bedreig. Akteurs is ook teleurgesteld dat hul langtermynvergoeding, wat hulle ontvang wanneer ʼn rolprent of reeks waarin hulle verskyn het weer uitgesaai word, amper heeltemal gekwyn het.

Die alliansie vir rolprent- en televisievervaardigers (AMPTP) het gesê dat hy “geskiedkundige” verhogings aan akteurs gebied het. Die alliansie het ook aangevoer dat hy ʼn KI-beleid voorgestel het wat baanbrekerswerk sou doen, maar dat die akteurs ʼn “pad gekies het wat tot finansiële lyding vir duisende mense wat afhanklik is van die vermaakbedryf” sal lei.

Bob Iger, uitvoerende hoof van Disney, het Donderdag aan CNBC gesê die akteurs en skrywers se verwagtinge is “onrealisties” is en dat hul staking “baie steurend” vir hom is.

Phil Lord, skrywer, regisseur en vervaardiger van rolprente soos Spiderman: Into the Spiderverse en The Lego Movie, was van diegene wat produksiehuise se weergawe van gebeure bevraagteken het.

“AMPTP was hardkoppig pleks daarvan om probleme wat opgelos kan word, saam met ons te pak. Dit bedreig skrywers en akteurs wat onderaan die betalingskaal is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pietertjie ·

Wat my aanbetref kan hulle maar permanent staak, en Hollywood sy deure sluit. Daar is genoeg akteurs en narre in die wêreld se regerings.

Renegade7JDV ·

As jy vrees dat kunsmatige intelligensie jou werk gaan vat moet jy liefs nie staak nie, dit sal dié motivering vir dit net makliker maak

Lillian ·

Vir al die gemors wat Hollywood deesdae opdis kan hulle maar hul deure sluit.

Debbie ·

Waar is Charlize Theron nou, sy is mos van South Africa so sy ken van staak en toi toi. Sy moet daar n les of 2 gee.
Weet nie hoekom hul staak nie want hulle almal is miljoenêrs alreeds. Hul vergoeding is baie hoog

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.