Aktiviste soek Fukushima-bestraling in Kalifornië se seewater

radiation-jpgDrie jaar na die groot aardbewing en tsunami die Fukushima-kernkragaanleg in Japan beskadig het, toets aktiviste nou die seewater by Kalifornië se Santa Cruz vir bestraling. Santa Cruz se hawe is deur die tsunami beskadig.

Die aktiviste help wetenskaplikes om seewatermonsters te neem vir ontleding. Die wetenskaplikes is al ‘n eeu in die gebied bedrywig om verskillende aspekte van die seelewe te bestudeer.

Gerugte dat die radioaktiewe materiaal Kalifornië kan bereik, en selfs gevaar inhou, duik gereeld op.

In November het ‘n artikel wat onder wetenskaplikes as een van die grootste wolhaarstories ooit verskyn aanvanklik die wenkbroue laat lig. ‘n Uiters gevaarlike radio-aktiewe en toksiese rommeleiland so groot soos Texas sou volgens die artikel onheilspellend op Kalifornië afstuur. Dit het in die media die bynaam van die “toksiese monster” gekry. Die rommel wat stukke huise en bote insluit, is afkomstig van Japan se groot tsunami van 2011 wat weens die radio-aktiewe lekkasie van die Fukushima-kernkargaanleg radio-aktief en baie gevaarlik is.

Maroela het ‘n artikel hieroor die eerste keer in die Nederlandse gehaltekoerant, Trouw, opgespoor wat dit as die verwerkte werk van sy eie redaksie aanbied. Tot ‘n kaart van die “eiland” is saam gepubliseer.

Maar net te veel aspekte van die storie het nie gerym nie.

‘n Soektog dui daarop dat die storie ook reeds elders, soos die Voice of Russia gedra is.

Dit kom voor asof die oorspronklike outeur van hierdie weergawe John Hall van die Britse Independent is. Die opskrif van sy artikel verklap die ganse verhaal:  “The ‘toxic monster’ is coming! Texas-sized floating island containing one million tonnes of junk from Japan tsunami drifting towards US.”

Maroela het die geloofwaardigheid van die storie nagespoor. Daar is duidelik elemente van die waarheid in – Trouw het immers die skakel na ‘n onlangse verslag van die National Oceanic and Atmospheric Administration (NOAA) ook voorsien en dié handel oor die reuse hoeveelheid tsunami-rommel in die Stille Oseaan waarvan ‘n klompie reeds aan die Kanadese en Amerikaanse kus uitgespoel het.

‘n Verdere soektog bring aan die lig dat daar inderdaad ‘n groot drywende “rommeleiland” in die Stille Oseaan is, maar taamlik ver noord, en geen drywende eiland soos die publiek dit sonder verduideliking sal verstaan nie. Dit is bloot ‘n gebied waarheen seestrome drywende rommel voer, en weens die rigting van seestrome, ook daar vasgekeer word. Die eiland is bloot ‘n gebied waar die voorkoms van drywende rommel effens meer is as elders in die Stille Oseaan, en ‘n skip sal daardeur kan vaar sonder dat enige rommel opgemerk word. Die grootte hiervan word gewoonlik aangedui as so groot soos Texas, of twee keer so groot soos Texas.

Het Hall nie dalk twee stories gaan opklits vir ‘n lekker scoop nie?

Maroela het hierop die NOAA self genader wat dankbaar gereageer het dat hulle eers om duidelikheid genader is. Keeva Belva van die NOAA bevestig dat daar van Midway-eiland tot aan die Amerikaaanse kus ‘n area byna drie keer so groot soos die VSA is waarin onder meer Tsunami-rommel voorkom. Die Japannese owerhede meen sowat 5 miljoen ton puin is deur die tsunami in die Stille Oseaan weggevoer, waarvan sewentig persent byna dadelik gesink het. Dit is die ongeveer 1,5 miljoen ton puin wat oor die groot gebied versprei is. Rekenaarmodelle dui aan dat die meeste hiervan in die gebied noord van Hawaii tot oos van Midway versprei is.

Tot 5 September verlede jaar het die NOAA 1 887 aanmeldings van puin gekry wat in Amerika uitgespoel het. Hiervan kon bevestig word dat 35 van die tsunami afkomstig was.

Maroela is voorts na inligting op die NOAA se webwerf verwys, waar ‘n soortgelyke kaart is as die een wat skynbaar ook van die NOAA afkomstig is, en wat die “rommeleiland” aandui. Die kaart op die webwerf dui die gebied aan waar die meeste rommel na verwagting is, maar nie op dieselfde plek as Trouw se kaart aan nie, en die verslag meld ook niks van ‘n eiland of “toxic monster” nie. Trouens, verskeie van die NOAA se verslae meld dat die puin so opgebreek en versprei is dat dit baie moeilik is om dit waar te neem, soos uit satellietbeelde, lugverkenning en selfs ter see. Dit is hoekom dit so belangrik is dat iemand wat iets waarneem, dit moet aanmeld.

Geen radio-aktiewe materiaal is nog gevind nie, en die kanse daarvoor is minimaal. Dié verslag kan hier gelees word.

Die publiek word aangemoedig om rommel aan te meld sodat dit onder meer ondersoek kan word vir indringer-seellewe wat die natuurlike seelewe van Amerika dalk kan bedreig.

Tsunami-verwante rommel sal nog jare uitspoel, maar nie as “toksiese drywende eiland” rampspoedig uitspoel nie.

Maar die aktiviste byt nie so maklik aan amptelike gerusstellings nie.

“As die toetse toon dat daar geen bo-normale radio-aktiewe vlakke is nie, sal ons bly wees,” aldus een van die voorste aktiviste. Maar hulle vat darem nie ‘n kans nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.