Aktrise Betty White oorlede

Betty White by die 70ste Emmy-toekennings by die Microsoft-teater in Los Angeles, Kalifornië (17 September 2018) (Foto: Robyn Beck/AFP)

Die geliefde aktrise, komediant en Amerikaanse ikoon Betty White is oorlede – ʼn paar dae voor haar 100ste verjaarsdag.

Owerhede in wetstoepassing het aan TMZ gesê Betty het Vrydag net voor 09:30 by haar huis gesterf.

Sy was ʼn toonaangewer en voorloper in die media en het die langste loopbaan vir enige vrou in TV gehad tot met haar afsterwe. Sy het die afgelope agt dekades, sedert 1939, in verskeie programme verskyn. Sy is op 17 Januarie 1922 gebore.

Sy was veral bekend vir haar hoofrol as Rose Nylund in die reeks The Golden Girls (1985 – 1992). Sy het as komediant naam gemaak vir haarself in 1973 toe sy in die rol van Sue Ann Nivens verskyn het in die Mary Tyler Moore Show, wat tot 1977 op die kassie was en daarna in The Betty White Show. Sy was onlangs ook in Hot in Cleveland te sien.

Betty White tydens die 2015 TV Land-toekennings by die Saban-teater in Beverly Hills, Kalifornië (11 April 2015) (Foto: Joe Scarnici/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Sy is verskeie kere vir die Golden Globes-toekenning genomineer en het verskeie toekennings ontvang vir haar lewenslange bydrae tot die kunste.

Sy het vroeër vandeesweek opslae gemaak toe sy skertsend aan People-tydskrif gesê het: “Ek hoor Ryan [Reynolds] kan nie oor my kom nie.” (Hulle het saam in die 2009-fliek The Proposal verskyn.)

Betty was baie versigtig tydens die pandemie en het hoofsaaklik tyd by haar huis spandeer deur te lees, televisie te kyk en blokkiesraaisels te voltooi.

In die jongste uitgawe van People het sy gedeel hoe sy oor haar 100ste verjaarsdag voel. “Ek is baie gelukkig om só gesond te wees en só goed te voel op my ouderdom. Dis wonderlik.” Sy het haarself as ʼn ewige optimis beskryf en gesê dit was die sleutel tot haar opbouende geaardheid. “Ek het dit by my ma gekry en dit het nooit verander nie. Ek probeer altyd om die positiewe kant te sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.