Aktrise Debbie Reynolds sterf dag ná haar dogter

Debbie Reynolds (Oktober 2011) Foto: AP Photo/Richard Drew, File

Debbie Reynolds (Oktober 2011) Foto: AP Photo/Richard Drew, File

Die Amerikaanse aktrise Debbie Reynolds is Woensdag in die ouderdom van 84 oorlede, een dag ná haar dogter, Carrie Fisher.

Reynolds is vroeër die dag na die hospitaal geneem nadat sy glo ʼn beroerte gehad het.

Die Hollywood-legende is veral bekend vir haar rol teenoor Gene Kelly in 1952 in die fliek, “Singin’ in the Rain”.

Maroela Media het vroeër berig Fisher, veral bekend vir haar rol as prinses Leia in die Star Wars-reeks, is Dinsdag in die ouderdom van 60 dood nadat sy die vorige Vrydag ʼn hartaanval op ʼn vliegtuig gehad het op pad van Londen na Los Angeles.

Reynolds is Woensdag met ʼn ambulans na Cedars-Sinai- mediese sentrum geneem toe sy ʼn beroerte gehad het.

“Sy is nou saam met Carrie. Ons harte is seer,” het haar seun, Todd Fisher, aan AP-nuusagentskap gesê. Volgens hom was sy suster se afsterwe “te veel” vir sy ma.

“Debbie Reynolds was een van die laaste van Hollywood se koninklikes. Dit breek my hart dat sy weg is,” het Star Trek-ster William Shatner op sosiale media gesê.

Joan Collins het gesê sy was “ʼn wonderlike gulhartige vriendin en kollega”.

Reynolds het die hoofrolle gespeel in ʼn reeks Hollywood-musikale blyspele en komedies in die 1950’s en 1960’s. Sy was maar 19 jaar oud toe sy sterstatus in “Singin’ in the Rain” behaal het. Sy was meer onlangs ook te sien in die gewilde televisiereeks, “Will & Grace” as Grace se ma, Bobbi Adler.

Sy het ʼn Oscar-nominasie ontvang vir haar rol in die 1964-blyspel “The Unsinkable Molly Brown”.

Sy het ʼn leeftyd-toekenning in 2015 van die Screen Actors Guild ontvang. Carrie het dié toekenning aan haar ma oorhandig.

Reynolds is in 1955 met Eddie Fisher getroud en twee kinders is uit dié huwelik gebore, Carrie en Todd. Die egpaar is in 1959 geskei ná Eddie se verhouding met Elizabeth Taylor aan die lig gekom het. Reynolds is twee keer daarna weer getroud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Frik ·

Groot ikoon wat ons finaal groet, haar liedjie “Tammy’s in love” bly maal deur my kop vanoggend. Daarby een van die laaste suiwer stemme sonder die hulp van soos vandag met al die elektroniese toestelle. R.I.P. Debbie

Alwyna Holtzhausen ·

Debbie se ‘Dominique’ was een van my gunstelinge as jong dogter. RIV

Sommer ·

Beste Alwyna, as ek my nie misgis nie, was Domique die treffer van Soeur Sourire, oftewel “The Singing Nun”. :)

Sommer ·

En hier is ek alweer Alwyna. Jammer, ek was verkeerd: Debbie het ook Dominique gesing, want sy het die rol van “The Singing Nun” in die gelyknamige film vertolk. Jy was dus heel reg om haar daarvoor te onthou.

John ·

Rolprentsterre het ook harte… dikwels klein hartjies ♡♡

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.