Al 12 seuns, afrigter veilig uit grot gebring

Hierdie foto wat deur Elon Musk op Twitter gedeel is, toon hoe die reddingswerk voortgaan in die oorstroomde grot in die noorde van Thailand. Musk het dié foto vroeg Dinsdagoggend (10 Julie 2018) getwiet. Foto: Twitter

Die Thai-vloot het Dinsdagmiddag bevestig dat al 12 seuns en hul sokkerafrigter ná ʼn beproewing van langer as twee weke uit die Tham Luang Nang Non-grot gered is.

Volgens die vloot is die laaste vier seuns en hul afrigter Dinsdag veilig uit die grot in die Chiang Rai-provinsie in Thailand gebring. ʼn Woordvoerder van die vloot het gesê daar word daar tans nog gewag op ʼn paramedikus en drie vlootbeamptes wat agtergebly het om uit die grot te kom.

Daar kon Dinsdagmiddag gesien word hoe drie ambulanse met flitsende ligte die toneel voor die grot verlaat nadat die laaste seuns en die afrigter uit die grot gebring is. Die seuns en die afrigter sal na verwagting ook na ʼn plaaslike hospitaal gehaas word vir behandeling.

Die ander agt seuns word reeds in ʼn hospitaal behandel en ʼn senior gesondheidsbeampte het vroeër vandag bevestig hulle kan nou begin vaste kos eet. Dokters is baie versigtig omtrent die seuns se behandeling, aangesien dit nog onbekend is watter soort infeksies moontlik kan intree ná die seuns so lank in die diep grot vasgekeer was.

Die opspraakwekkende reddingspoging wat op 23 Junie begin is, was hoogs gekompliseerd en het van die wêreld se beste reddingsduikers ingesluit. Elke seun is een-een met ʼn tou aan ʼn reddingsduiker vasgemaak wat voor hom beweeg het, terwyl ʼn tweede reddingsduiker agter die seun geswem het. Hulle moes dan saam meer as 2 km ver na die uitgang van die grot beweeg.

Die seuns en die duikers het suurstofmaskers op gehad, maar die duiker wat voor swem het elke seun se suurstoftenk vir hom gedra. Die duikers en seuns kon op sekere dele van die pad uit te voet beweeg, terwyl hulle op ander dele moes duik. Op party plekke is die gangetjie waardeur hulle moes beweeg só nou dat die duikers die suurstofsilinders van hul rûe moes afhaal en deur die nou openinge moes rol.

Die seuns moes eers opgelei word om met die suurstofmaskers onder water asem te haal voordat die reddingsoperasie kon begin.

Dit het ongeveer drie uur geneem vir ʼn seun en twee duikers om te beweeg van die plek waar die seuns in die grot vasgekeer was tot buite die grot.

Lees alle vorige berigte oor die Thailand-grotredding op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

nannie ·

Baie geluk aan al die persone wat gehelp het om hierdie seuns en afrigter te red. Knap gedaan.

not in wonderland ·

Voorwaar ‘n goeie einde. Ek was onlangs in Thailand en ek kan net dink dat die hele land is nou in rep en roer is. Dankie Vader.

Santie ·

Ai dit is wonderlike, opbeurende nuus vir ‘n verandering! Dank die Here die kinders en afrigter is almal veilig, en so glo ek, sal die laaste vier beamptes ook veilig uit die grot kom.

Spanbou ·

Sjoe, praat van ‘n spanbou! Ek glo hierdie 12 seuns sal vir die res van hul lewe ‘n spesiale band hê.

Mooiste ·

Mooiste storie, van die eenvoudigste beroep tot die mees gesofistikeerde – van die armste land tot die rykste, het almal net een doel om te help & te red.

Hallelujah ·

Ek kan even skreeu van blygeid – hulle is veilig en gered. Amen. En dankie aan die reddingspan vir hulle harde werk ook.

Hallelujah ·

Ek kan even skreeu van blygeid – hulle is veilig en gered. Amen. En dankie aan die reddingspan vir hulle harde werk ook.

Msp ·

Ek dank onse hemelse Vader dat almal veilig is. Bid dat die een man wat deel was van die reddingspoging en in die proses sy lewe verloor het se naasbestandes sterkte toe.

Miems ·

Prys die Here Hy het ons gebede vir hulle en die helpers verhoor!!! Al die lof en al die eer kom U toe!!!!

Jane ·

Sjoe dis wonderlik, baie geluk en dankie vir julle harde werk. Simpatie egter aan die duiker wat sy lewe verloor het in ‘n poging om vir hulle suurstofbottels te neem se familie. Hy was ‘n held.

Gerda ·

Al die lof en eer aan ons ALMAGTIGE GOD IN DIE HEMEL. Dankie Vader vir U beskerming oor al daardie mensies.

Johanna ·

Alle eer aan die Here. Alle dank aan almal wat meegehelp het om dit n geslaagte reddingsoperasie te maak. Eer aan die man wat sy lewe afgelê het tydens die reddingspoging. Rest in peace. Mag al die kinders en afrigter. spoedig volkome herstel.

Susan ·

Daar sal seker ‘n fliek hieroor gemaak word, sal dit graag wil sien. Ek is so bly al die kinders is veilig uit!

Johan Oosthuizen ·

Ja, ons het nie verniet gebid nie! Onbeskryflike reddingspoging en elke lid van die reddingspan verdien die grootste lof.
Seg ek toe vir Vroulief, hulle het mos gewéét hulle mag nie daar ingegaan het nie. Ek dag toe hulle moet ‘n ordentlike Thai pakslae kry! (Die Thais glo nog aan ‘n goedverdiende pak slae. Ek weet want ek het daar skool gehou!) Maar toe ek nou sit en terugdink wat ek en my maters orie sestig jaar terug alles aangevang het – ja selfs die dood getart het – het my hart week geword en ek het besef hulle het hulle straf weg ensal dit nooit weer doen nie. Toe onthou ek ook toe ek destyds met bus vol kinders van Ellisras af in Pretoria gaan rondkuier het. Die aand het ons Uniegebou toe gestap en daar rondgekyk. Oppad terug het ons daar by oorle Louis Botha se standbeeld koppe getel en daar was drie kort. Benoudste oomblik van my lewe – lang storie. Toe ons by die koshuis aankom was die verlore dogters daar. Hulle was nie lus vir die stappery nie en het onder die bed weggekruip. Bid jou aan! Ek was so bly om hulle veilig te kry , dat ek nie eens aan raas of straf kon dink nie. En ek vergewe die Thaiseuns en gun niemand so ‘n lewensles nie!

Ondersteuning ·

Dis wonderlik – Dankie aan ons Hemelse Vader! Wonderwerke gebeur!

Lynette ·

Alles goed en wel, maar die afrigter wat die seuns toegelaat het om in n verbode deel van die grot in te gaan, sit met die dood van die een reddingswerker op sy gewete.

SNEL ·

Baie bly hulle is veilig, baie jammer oor die een vrywilliger wat sy lewe verloor het. Alle eer aan die Here. Baie van ons het vir die Here gevra dat hulle almal veilig uit die grot sal kom. So het hulle ook gebid vir die klomp se veiligheid, hulle is Buddhiste. Vir my is dit die hartseerste. In die blydskap oor almal se veiligheid gaan hulle hul god prys vir die veiligheid van hul kinders. Of jy glo in God of nie, vee nie Sy bestaan en Sy werklikheid uit nie. Dis soos suurstof, dis om jou in jou en jy dra kennis van dit, maar laat daar net min daarvan wees, dan mis en voel jy dit dadelik. As jy die Here dien, weet jy Hy is daar en as jy wegdwaal besef jy, jy is nie wat jy was nie en jou emosies spring rond. Dan besef mens met die Here maak dinge sin in jou lewe. My gebed is nou net dat hulle sal besef Wie se grote hand hier oor hul kinders was.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.