
Hierdie foto wat deur Elon Musk op Twitter gedeel is, toon hoe die reddingswerk voortgaan in die oorstroomde grot in die noorde van Thailand. Musk het dié foto vroeg Dinsdagoggend (10 Julie 2018) getwiet. Foto: Twitter
Die Thai-vloot het Dinsdagmiddag bevestig dat al 12 seuns en hul sokkerafrigter ná ʼn beproewing van langer as twee weke uit die Tham Luang Nang Non-grot gered is.
Volgens die vloot is die laaste vier seuns en hul afrigter Dinsdag veilig uit die grot in die Chiang Rai-provinsie in Thailand gebring. ʼn Woordvoerder van die vloot het gesê daar word daar tans nog gewag op ʼn paramedikus en drie vlootbeamptes wat agtergebly het om uit die grot te kom.
Daar kon Dinsdagmiddag gesien word hoe drie ambulanse met flitsende ligte die toneel voor die grot verlaat nadat die laaste seuns en die afrigter uit die grot gebring is. Die seuns en die afrigter sal na verwagting ook na ʼn plaaslike hospitaal gehaas word vir behandeling.
Die ander agt seuns word reeds in ʼn hospitaal behandel en ʼn senior gesondheidsbeampte het vroeër vandag bevestig hulle kan nou begin vaste kos eet. Dokters is baie versigtig omtrent die seuns se behandeling, aangesien dit nog onbekend is watter soort infeksies moontlik kan intree ná die seuns so lank in die diep grot vasgekeer was.
Die opspraakwekkende reddingspoging wat op 23 Junie begin is, was hoogs gekompliseerd en het van die wêreld se beste reddingsduikers ingesluit. Elke seun is een-een met ʼn tou aan ʼn reddingsduiker vasgemaak wat voor hom beweeg het, terwyl ʼn tweede reddingsduiker agter die seun geswem het. Hulle moes dan saam meer as 2 km ver na die uitgang van die grot beweeg.
Die seuns en die duikers het suurstofmaskers op gehad, maar die duiker wat voor swem het elke seun se suurstoftenk vir hom gedra. Die duikers en seuns kon op sekere dele van die pad uit te voet beweeg, terwyl hulle op ander dele moes duik. Op party plekke is die gangetjie waardeur hulle moes beweeg só nou dat die duikers die suurstofsilinders van hul rûe moes afhaal en deur die nou openinge moes rol.
Die seuns moes eers opgelei word om met die suurstofmaskers onder water asem te haal voordat die reddingsoperasie kon begin.
Dit het ongeveer drie uur geneem vir ʼn seun en twee duikers om te beweeg van die plek waar die seuns in die grot vasgekeer was tot buite die grot.
Lees alle vorige berigte oor die Thailand-grotredding op Maroela Media.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
24 Kommentare
Alle eer aan God. Prys die Heer!!
Hooya!!
Baie geluk aan al die persone wat gehelp het om hierdie seuns en afrigter te red. Knap gedaan.
Voorwaar ‘n goeie einde. Ek was onlangs in Thailand en ek kan net dink dat die hele land is nou in rep en roer is. Dankie Vader.
Ai dit is wonderlike, opbeurende nuus vir ‘n verandering! Dank die Here die kinders en afrigter is almal veilig, en so glo ek, sal die laaste vier beamptes ook veilig uit die grot kom.