Al meer druk op Weste om Russiese opmars te stuit

Rook hang in die lug bo Kiëf, nadat die stad Woensdagoggend deur ‘n vlaag ontploffings geruk is. (Foto: Aris Messinis/AFP)

Die VSA sal na verwagting Woensdag ʼn aankondiging oor nóg hulp aan Oekraïne doen, terwyl daar al hoe meer druk op Westerse leiers is om die Russiese bombardering van burgerlikes te stuit en vredesamesprekings stadig vorder.

Volgens ʼn Withuis-amptenaar sal pres. Joe Biden vandag aankondig dat nog weermaghulp ten bedrae van $800 miljoen – wat onder meer teentenk- en lugafweermissiele sal insluit – aan Oekraïne beskikbaar gemaak sal word. Die weermaghulp het tot dusver gehelp om Rusland se drie weke lange inval tot ʼn slakkepas te verstadig.

Die pakket bring die algehele hulp wat net in die laaste week aan Oekraïne beskikbaar gestel is, op $1 miljard (sowat R15 miljard) te staan.

Oekraïense pres. Wolodimir Zelenski sal terselfdertyd die Amerikaanse kongres toespreek en hy sal na verwagting opnuut pleit vir bondgenote van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) om regstreeks in te gryp om die Russiese aanvalle te stuit.

In ʼn laataandboodskap het Zelenski sy beleërde landgenote gevra om voort te veg teen Rusland se aansienlik sterker weermag, selfs al het hy daarop gesinspeel dat die konflik met ʼn onderhandelde skikking beëindig kan word.

“Alle oorloë eindig met ʼn ooreenkoms,” het hy gesê en verwys na ʼn “moeilike” maar “belangrike” ronde gesprekke tussen verteenwoordigers van Kiëf en Moskou.

“Die vergaderings duur voort. Ek verneem die posisie tydens die gesprekke lyk nou meer realisties. Ons het egter nog tyd nodig sodat die besluite wat geneem word, in die belang van Oekraïne is.”

Daar was die afgelope paar dae ʼn toename in Russiese aanvalle op burgerlike teikens, ook in Kiëf en die beleërde hawestad Marioepol, waar vlugtelinge vertel van moeilike ontsnappingspogings en lyke wat in die strate lê en verrot.

Meer as drie miljoen Oekraïners het reeds oor die grens gevlug en in hierdie stadium is daar nog geen werklike sprake van ʼn vreedsame oplossing nie.

Russiese pres. Wladimir Poetin het Dinsdag ʼn reeks aanvalle op Kiëf geloods wat minstens vier lewens geëis het. Die aanval het ook ʼn brand veroorsaak wat deur ʼn sestienverdiepingwoonstelgebou gewoed het.

Vredesmagte

Westerse militêre kenners glo Rusland wend hom toenemend tot lugaanvalle nadat die grondaanvalle gestuit is – en as moontlike stukrag in onderhandelings.

“Hulle het gevind dat hul grondaanvalle nie goed slaag nie en waar hulle vordering maak, is dit teen enorme koste wat nie volhoubaar is nie,” het Mick Ryan, ʼn afgetrede Australiese generaal, gesê.

“Hulle moet nou na Plan C oorskakel, wat die bombardering van stede en die terrorisering van burgerlikes is met die hoop dat Oekraïners een of ander vorm van politieke ooreenkoms sal bereik,” sê Ryan.

“Wat die Russe doen, is om ons eie menslikheid teen ons te gebruik en Zelenski se menslikheid teen hom.”

Zelenski het vroeër aan Oekraïners gesê hulle dalk daarvan moet vergeet om by Navo aan te sluit. Die kans daarop was nog altyd skraal, maar een wat Rusland herhaaldelik voorgehou het as regverdiging vir die inval.

Leiers van Pole, die Tsjeggiese Republiek en Slowenië het Kiëf pas besoek en al drie vra vir ʼn taaier Westerse benadering teenoor Moskou. Pole se adjunkpremier, Jaroslaw Kaczynski, het gevra vir die ontplooiing van ʼn Navo-sending of ʼn ander internasionale vredesmag “wat hom sal kan verdedig en op Oekraïnse grondgebied bedryf kan word”.

Die oproepe het ʼn louwarm ontvangs in die Weste gehad, waar vrese bestaan dat só ʼn stap ʼn katastrofiese oorlog met kernbewapende Rusland kan veroorsaak.

Westerse lande het eerder verkies om Rusland op diplomatieke en ekonomiese vlak te isoleer.

Hulle het verwoestende sanksies ingestel, wat beteken Rusland sal moontlik binnekort nie meer in ʼn posisie wees om sy skuld te diens nie. Die land is boonop uit verskeie internasionale politieke en sportgeleenthede gedwing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Althes ·

Dis goed dat ons regering besef dat hul nie Rusland kan steun nie, want die Weste se sanksies snerp soos ñ Siberiese winter oor rusland

Kokkie ·

En wanneer het ons regering nogal tot hierdie ‘besef’ gekom…….Kersfees 2050? Ek hoop eintlik dat hulle militêre steun aan Rusland gaan verleen, want dan gaan die Russiese soldate hulle so lam lag dat hulle nie met die oorlog kan voortgaan nie.

Julius ·

Die weste is bang vir rusland, maar lok hom ook uit. Putin gaan kry wat hy wil hê.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Hierdie is die begin van WWIII. Moeilike tye lê voor, mense.

marius ·

Dit het niks met die weste uit te waai nie . Raak betrokke en die hele wereld gaan daaronder ly . Moet nie dan kom tjank nie ….

Thom ·

Dit het alles met die weste ” uit te waai ” ___ as jy na Poetin se pype wil dans is jy welkom maar nie ek nie !

Robert ·

Die Weste se inmening by name die CIA het hierdie gemors veroorsaak.

annie ·

En Zolly spreek die VSA-Kongres en die van Kanada en Engeland toe… Leiers swymel voor die akteur. Hy verwys na Pearl Harbour en smeek so te sê vir ‘n atoombom op Rusland. Die wêreld is klei in Zolensky se hande… Groot gevaar dreig! Oekraïene gaan WO3 ontketen… Muise deur ‘n adder betower. Sien niemand deur die man nie?

Hendrik ·

Hoe gaan Oekraïne die derde wereldoorlog ontketen? Het ‘n land nie die reg om homself te verdedig en vir hulp te vra as hy ingeval word nie? As iemand die derde wereldoorlog gaan ontketen, is dit Vladimir Poetin.

Hendrik ·

Hoekom is so baie mense hier behep met Poetin? Sien julle nie die parallel tussen die huidige situasie en Brittanje se aanval op die twee Boere-republieke nie?! Oekraïne is ‘n onafhanlike land en Poetin wil die USSR weer herstel in sy glorie – dis niks anders as moderne kolonialisme nie. Soos ons voorouers in die konsentrasiekampe gely het, so laat ly Poetin nou die burgers van Oekraïne deur hulle huise, skole en hospitale te bombardeer, terwyl sy militere mag maar sukkel teen die soldate van Oekraïne. Soos Kitchener, wil Poetin die oorlog wen deur die burgerlikes aan te val.

annie ·

Die Oekaïene was 27 jaar gelede deel van Rusland en het toe afhanklikheid gekry. Die Minsk-ooreenkoms word nou geïgnoreer wat Navo verbied om op die Russiese grens te plak. Zelensky wil nie sy buurlande erken nie. Hy wil uitbrei. Rusland het SA gedurende die Boereoorloë gehelp.. Zelensky, Navo en Neo-Nazi’s is die probleem.

Marthinus W ·

Donetsk en Loegansk in die Donbas sal eerder kwalifiseer as “Boere-republieke”, want Kief wil hulle nie erken nie, en noem die mense daar “terroriste” en “untermensch”. (Dit is waarom Porosjenko met die oorlog teen hulle begin het; en die hoogheilige EU het tot dusver stil gebly.) n Lid van die Oekrainse rada [parlement] het die afgelope week inligting uitgestuur om te “bewys” dat net die Oekrainsers ware, suiwer, Slawiers is; die Russe is volgens hom n kroes-mengsel van kulture.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.