Ál meer Filippyne eis reg op egskeiding

(Foto: Pixabay)

Die Filippyne is die enigste plek, buiten die Vatikaan, waar egskeiding vandag steeds taboe is. Daar is die afgelope ruk egter toenemende oproepe om wetgewing daaroor te wysig.

ʼn Hof kan ʼn egskeiding in die Filippyne nietig verklaar, maar dit is ʼn proses wat dikwels jare lank kan duur en duisende rande kos. Die regering kan boonop teen só ʼn hofbevel appelleer.

Die magtigste teenstander teen die wettiging van egskeiding in die Filippyne is die Katolieke Kerk – wat ook teen aborsie en die gebruik van voorbehoedmiddels gekant is. Volgens amptelike sensusdata is ongeveer 78% van die land se 110 miljoen burgers Katoliek en politici is versigtig om die kerk oor gevoelige sosiale kwessies teen te gaan.

Diegene wat die wettiging van egskeiding voorstaan, sê die verbod maak dit moeilik vir paartjies om bande te verbreek en weer te trou, en om van gewelddadige eggenote te ontsnap.

Mense wat hul huwelik wil beëindig, kan die hof vir ʼn nietigverklaring vra of ʼn verklaring indien wat bewys dat die huwelik uit die staanspoor ongeldig was. ʼn Skeisaak kan enigiets van $10 000 (byna R200 000) of meer kos. In ʼn land wat deur armoede geteister word – en met geen waarborg dat die aansoek suksesvol gaan wees nie – is dit vir talle Filippyne onmoontlik om uit ʼn onhoudbare huwelik te ontsnap.

Opnames wat deur die meningspeilingsmaatskappy Social Weather Stations gedoen is, toon ʼn verskuiwing in Filippynse houdings jeens egskeiding.

In 2005 het 43% van die Filippyne die wettiging van egskeiding gesteun “vir onversoenbare” paartjies, terwyl 45% nie ten gunste daarvan was nie.

Dieselfde opname is weer in 2017 gedoen en toe het 53% van deelnemers ten gunste van egskeiding gestem, terwyl 32% gekant was teen die wettiging van egskeiding.

ʼn Groep wetgewers lei nou ʼn nuwe poging om egskeiding te wettig, met verskeie wetsontwerpe wat daarvoor ingedien is.

“Ons vernietig geen huwelik nie,” sê Edcel Lagman, ʼn kongreslid en skrywer van een van die wetsontwerpe.

Lagman sê egskeiding is vir “wanfunksionele huwelike wat onherstelbaar is” en die wettiging daarvan sal vroue en hul kinders in staat stel om te ontsnap van onverdraagsame mans of eggenote wat hulle mishandel.

Die wetgewing sal ook nie ʼn “vinnige egskeiding” toelaat nie, het hy bygevoeg.

Voor sy verkiesing het pres. Ferdinand Marcos gesê die land moet dit oorweeg om egskeiding toe te laat, terwyl hy terselfdertyd daarop aangedring het dat dit nie té maklik moet wees nie.

Vader Jerome Secillano, verbonde aan die Katolieke Biskoppekonferensie van die Filippyne, meen die nasie moet “trots” daarop wees om die enigste land buite die Vatikaan te wees “wat vashou aan die tradisionele konsep van die huwelik”.

“Daar sal altyd onvolmaaktheid in ʼn verhouding wees.”

Secillano sê om van iemand te skei wat jou mishandel, sit die siklus van geweld voort omdat die oortreder dan net hul volgende maat gaan misbruik. “Jy genees nie werklik die siekte self nie,” sê Secillano.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Faraway ·

Iets wat in SA verskriklik maklik toegestaan word
Ek glo daar is baie wat vandag wens dit was ook hier nie so maklik nie . . .

Gert ·

Selfs baie weet ook nie hoe die voorbehoed pil werk nie. Dit sal baie mense wat teen aborsie is n ander siening teenoor die gebruik van die pil gee. “Hormones in birth control pills prevent pregnancy by: Stopping or reducing ovulation (the release of an egg from an ovary). Thickening cervical mucus to keep sperm from entering the uterus. Thinning the lining of the uterus so that a fertilized egg is less likely to attach.” Die laaste sin noem die naelstring kom uit maar kan nerens heg nie.

Dirk ·

Geen kerk moet ‘n invloed hê op ‘n regering nie! ALbie moet afsonderlik wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.