Al meer tweelinge wêreldwyd gebore

Argieffoto (Foto: Uwe Baumann/Pixabay)

Al hoe meer tweelinge – een uit elke 42 kinders wat gebore word – word wêreldwyd gebore, meer as ooit te vore. Dit is volgens nuwe navorsing wat mediese bystand in voortplanting as die grootste faktor aandui.

Sowat 1,6 miljoen tweelinge word jaarliks gebore; sowat ʼn derde meer as vier dekades gelede, aldus ʼn studie in Human Reproduction.

“Die relatiewe en absolute getal tweelinge in die wêreld is hoër as ooit sedert die middel twintigste eeu en dit is waarskynlik die hoogste ooit,” het Christiaan Monden, professor aan die Universiteit van Oxford en hoofouteur van die studie, Vrydag gesê.

Die toename in geassisteerde voortplantingstegnologie (ART) in ontwikkelde lande sedert die 1970’s, veral in die VSA en Europa, het ʼn groot bydrae gelewer tot die toename in veelvoudige geboortes, het die studie bevind.

Ma’s wat op ʼn hoër ouderdom geboorte skenk, wanneer die koers vir tweelinge hoër is, is ook ʼn faktor, asook die verhoogde gebruik van voorbehoedmiddels, vroue wat later in hul lewens besluit om met ʼn gesin te begin en laer vrugbaarheid oor die algemeen.

Navorsers het tussen 2010 en 2015 data van 165 lande versamel wat 99% van die wêreldwye bevolking dek. Vir 112 van dié lande was tweelingkoerse ook beskikbaar vir die periode 1980 – 1985 en dit was dus moontlik om veranderinge oor ʼn tydperk na te gaan.

In driekwart van die land met data vir albei periodes het tweelinggeboortes met minstens 10% toegeneem, het die studie bevind.

In Asië het die koers met 32% toegeneem. In Noord-Amerika het dit met 71% toegeneem.

Hoër sterftekoers

“In albei tydperke het Afrika die hoogste tweelingkoers gehad, en daar was nie ʼn beduidende toename oor tyd nie,” het Monden bygevoeg.

Daar was ʼn afname in die getal tweelinggeboortes in slegs sewe lande. Die verhoogde getal tweelinge in armer dele van die wêreld is kommerwekkend, het die studie gewaarsku.

“Daar moet aandag geskenk word aan die lot van tweelinge in lae- en middelinkomste-lande,” het mede-outeur Jeroen Smits, ʼn professor aan Radboud-universiteit in Nederland, bygevoeg. “Veral in sub-Sahara Afrika sal talle tweelinge hul maat in die eerste jaar van hul lewens verloor. Sowat 200 000 – 300 000 elke jaar, volgens ons vorige navorsing.”

Tweelinggeboortes gaan gewoonlik gepaard met hoër sterftekoerse onder babas en kinders en meer komplikasies vir ma’s en kinders tydens die swangerskap – tydens en ná die geboorte.

Twee-eiig, nie identies nie

Navorsers het gesê die rekordgetal word gedryf deur die geboorte van twee-eiigge tweelinge, wat uit twee afsonderlik bevrugte eiers afkomstig is. Die getal identiese tweelinge bly wêreldwyd stabiel op sowat vier per 1 000 geboortes.

Dit is moeilik om te bepaal of die koers van tweelinggeboortes sal bly toeneem, het die navorsers gesê. “Meeste data dui daarop dat ons ʼn spits bereik het, veral in hoë-inkomstelande, veral in Europa en Noord-Amerika,” het Gilles Pison van die Franse natuurhistoriese museum, ook ʼn mede-outeur, gesê. “Dit is moontlik dat ons ʼn kombinasie van laer algemene vrugbaarheid, hoër ouderdomme met geboorte en meer mediese bystand met voortplanting sal sien. Die eersgenoemde sal lei tot ʼn laer tweelingkoers, en laasgenoemde twee tot ʼn hoër koers vir tweelinge.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Blomme ·

Ek het ń identiese tweeling. Tweelinge is dubbel meer vreugde.

AmY ·

My suster het op ouderdom 39 geboorte geskenk aan ‘n nie-identiese tweeling dogters. Hulle is nou amper tien en twee op en wakker meisie kinders.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.