Alec Baldwin maak oop ná skietery

Alec Baldwin het Saterdag met verslaggewers gepraat. (Foto: Skermgreep uit die onderhoud/CNN)

Die bekende Hollywood-akteur Alec Baldwin het die afgelope naweek vir die eerste keer openlik gepraat oor die noodlottige skietvoorval wat die lewe van kinematograaf Halyna Hutchins op ʼn rolprentstel geëis het.

“Sy was ʼn goeie vriendin van my. Ons het net nou die aand saam uitgeëet.”

Baldwin en sy vrou, Hilaria, het Saterdag met verslaggewers in die Amerikaanse deelstaat Vermont gepraat, en onder andere gesê dat daar beter vuurwapenbeheer op rolprentstelle moet wees. Hy het egter benadruk dat hy deur die polisie aangesê is om glad nie met die media oor die voorval self of die ondersoek daarna, te praat nie.

Hy is ook van mening dat dit onwaarskynlik is dat die verfilming van die 19de-eeuse Wilde Weste-fliek Rust sal voortgaan. Baldwin was ʼn medevervaardiger van dié film toe hy Hutchins per ongeluk op die stel doodgeskiet het. Joel Souza, die regisseur, is ook in die voorval gewond.

Baldwin het die skietery as ʼn buitegewone en tragiese ongeluk beskryf.

“Daar is van tyd tot tyd ongelukke op rolprentstelle, maar niks soos hierdie nie. Dit is ʼn een uit ʼn triljoen-geval.”

Sedert die voorval is daar ʼn toename in oproepe om beter vuurwapenbeheer op rolprentstelle en Baldwin het saamgestem dat hierdie kwessie dringend aandag moet kry.

Baldwin kon nie bevestig of hy ooit weer met ʼn vuurwapen op ʼn rolprentstel sal werk nie.

“Sy [Hutchins] was soos familie vir my. Ons was ʼn goed geoliede span wat saam die rolprent verfilm het toe hierdie aaklige tragedie plaasgevind het,” het hy gesê.

Volgens Baldwin is Hutchins se wewenaar en kinders gebroke en uiters hartseer ná haar dood.

Baldwin het kort ná die voorval sy hartseer oor Hutchins se dood op Twitter uitgespreek en gesê hy gee sy volle samewerking aan die polisieondersoek.

Hy kon egter nie Saterdag die ondersoek bespreek nie en het geweier om kommentaar daaroor te lewer.

Die film se wapenhanteerder Hannah Gutierrez-Reed, wat verantwoordelik is vir die beveiliging van die wapens op die stel, het intussen gesê sy het geen idee hoe sogenaamde skerp ammunisie op die stel beland het nie.

Dit volg kort nadat kommer oor die veiligheidstandaarde op die stel aan die lig gekom het. Owerhede het ook sowat 500 patrone op die stel gekry wat almal ʼn mengsel van loskruit-, skerp ammunisie en foppatrone is.

Volgens die verklaring het Gutierrez-Reed nooit gesien dat iemand skerp ammunisie met die vuurwapens skiet nie en sou sy dit ook nie toegelaat het nie.

“Die vuurwapens is elke aand en tydens middagete toegesluit en daar is nie ʼn manier dat een van die bemanningslede dit sonder my toestemming in die hande sou kry nie.”

Owerhede in Santa Fe, Nieu-Mexiko – waar die rolprent verfilm is – is steeds besig om die saak te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

piet ·

Sy’t nie geweet daar is skerppunt ammunisie nie maar dit was dan saam met die ander ammunisie gevind? Ek kan jou nou se hoekom daar skerppunt ammunisie was. Dis natuurlik ‘n tydverdryf om skyf te skiet vir ontspanning gedurende pouses, dis hoekom. Daar behoort streng reels te wees dat geen skerppunt ammunisie enigsins toegelaat word op die perseel waar die rolprent geskiet word nie.

Robert ·

Duidelik soos daglig. En hy moes eers seker gemaak het die wapen was korewk gelaai met loskruit en nie skerppunt nie.

AmY ·

Daar was destyds (ek dink 1984) ook so voorval op die stel van ONDER DIE DEKMANTEL (COVER UP) waar die een akteur met een of ander geweer gespeel het en homself in die kop geskiet het. Ek dink dit was ‘n fopgeweer of ‘n blank koeël gewees?
Hy is later oorlede.

FJ ·

Dit was ‘n regte vuurwapen met ‘n ‘blanc’ gelaai. Jy kan egter nie ‘n vuurwapen teen jou slaap druk en ‘n ‘blanc’ afvuur nie. Die ontploffing vind nog steeds plaas en dit kan slegs by die loop uit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.