Alexei Navalny toon tekens van beterskap

Alexei Navalny (Foto: Pavel Golovkin, AP)

Die Russiese opposisieleier Alexei Navalny toon al meer tekens van beterskap nadat hy sowat drie weke gelede vergiftig is. Franse en Sweedse laboratoriums het intussen bevestig het dat hy wel met die dodelike senumiddel Novichok vergiftig is.

Die hospitaal in Berlyn, Duitsland, waar Navalny behandel word, het Maandag gesê die opposisieleier is nie meer aan ʼn ventilator gekoppel nie en kan vir kort tye op ʼn slag uit sy bed opstaan. Dit volg sowat ʼn week nadat hy uit ʼn medies geïnduseerde koma gebring is.

Die Duitse regering het intussen gevra dat laboratoriums in Frankryk en Swede onafhanklike toetse doen om te bevestig dat Navalny vergiftig is. Dié laboratoriums steun vroeëre bevindings van ’n Duitse militêre laboratorium dat Navalny met Novichok vergiftig is – dieselfde tipe senumiddel uit die Sowjet-era wat gebruik is in ’n aanval op ’n voormalige Russiese spioen in 2018.

Volgens die regering het die onderskeie laboratoriums hul eie monsters geneem.

Die Organisasie vir die Verbod op Chemiese Wapens (OPCW) in Den Haag, Nederland, beplan nou ook om monsters van Navalny by sy laboratoriums te laat toets, het Steffen Seibert, woordvoerder van die Duitse regering, gesê.

Wladimir Poetin (Foto: Alexei Nikolsky, AP)

“Ons doen weer ’n beroep op Rusland om ’n verklaring oor die voorval uit te reik.”

Die Kremlin word steeds deur Navalny se span van sy vergiftiging verdink.

Volgens die Franse president Emmanuel Macron se kantoor het Macron Maandag tydens ʼn oproep met die Russiese president Wladimir Poetin sy kommer oor “die kriminele daad” uitgespreek.

Macron se kantoor het in ʼn verklaring gesê Frankryk het tot dieselfde gevolgtrekking as sy Europese bondgenote gekom rakende die vergiftiging. “ʼn Verduideliking van Rusland is nodig binne die raamwerk van ’n geloofwaardige en deursigtige ondersoek,” lui die verklaring.

Volgens die Kremlin het Poetin gedurende die oproep na die “onbehoorlikheid van ongegronde beskuldigings teen Rusland” verwys en daarop aangedring dat Duitsland al sy monsters en ontledings van Navalny aan Russiese kundiges oorhandig.

Poetin het ook gevra dat Duitse en Russiese dokters saamwerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
ES

Dit is eenvoudig. Hy is kompetisie vir sy mededinger (Putin) so hy gaan uitgehaal word. Putin is natuurlik die onskuld vanself.

Grassie

Hy is beslis vergiftig maar ek glo nie dit is die Russiese regering wat dit gedoen het nie. As dit wel hulle was sou hy nie in die Russiese hospitaal oorleef het en ook nie toestemming gekry het om na Duitsland oorgeplaas te word nie. Putin is ‘n Christen, ek dink nie hy sou so laag gedaal het nie. Rusland is ‘n komplekse land – daar is baie woelinge en onderstrominge.

Human

Sommige van die kommentare laat mens besef, dat die Putin trolle, ook in Suid-Afrika opereer.

annie

Moet tog net vir Navalny aanvat nie. Hy’s die engel wat Rusland met die hulp van goeie Duitsland gaan rehabiliteer. Dan kan almal veral Biden gryp wat daar te grype is. En al die oorskiet migrante kan dan daar gaan plak en die EU kan ontspan. Rusland het hoeka die hele wèreld bedreig a la 007.