Vlug AH5017 het gister van die radar verdwyn kort nadat bemanningslede lugbeheer versoek het om hul roete te verander weens gure weer. Dit was sowat 50 minute nadat die vliegtuig opgestyg het.
Die vliegtuig het in Ouagadougou, die hoofstad van Burkina Faso, opgestyg en was onderweg na Algiers. Volgens berigte was daar 110 passasiers en ses bemanningslede aan boord die vliegtuig.
Frederic Cuvillier, Frankryk se minister van vervoer, sê militêre magte is onderweg na die ongelukstoneel. Daar was 51 Franse burgers op die vliegtuig.
Dié ongeluk kom nadat ‘n vliegtuig van TransAsia Airways Woensdag in stormweer in Taiwan neergestort het. Altesaam 58 mense is in die ongeluk dood.
Vlug MH17 van Malaysia Airlines is verlede week oor Oekraïne neergeskiet. Dié tragedie het die lewe van 298 mense geëis.