All Blacks spring kwarantyn nie vry

Nieu-Seeland se eerste minister, Jacinda Ardern. (Foto: Mark Mitchell/New Zealand Herald via AP)

Die eerste minister van Nieu-Seeland, Jacinda Ardern, het Maandag aangekondig die lede van die All Blacks-rugbyspan sal waarskynlik vir twee weke in kwarantyn moet bly wanneer hulle in Desember van Australië na Nieu-Seeland terugkeer ná hul finale wedstryd van die viernasies-rugbykampioenskap.

Die besluit is geneem weens die streng Covid-19-protokolle wat die land handhaaf.

Luidens The New Zeeland Herald was daar ʼn groot skeduleringsdilemma omdat die All Blacks-span vereis het dat die toernooi betyds eindig sodat spelers Kersfees tuis saam met hulle geliefdes kan deurbring.

Sanzaar, die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond, het Vrydag aangekondig dat die laaste wedstryd egter op 12 Desember in Sydney in Australië beslis gaan word.

The New Zeeland Herald berig dat Nieu-Seeland Rugby (NZR) gekla het dat die toernooi se organiseerders nie die aanvanklike ooreenkoms nagekom het rakende die All Blacks wat ʼn week vroeër, op 6 Desember, die toernooi sal voltooi nie.

NZR het gesê hy werk aan oplossings vir die All Blacks se dilemma.

Reuters berig Ardern het gesê hoewel niemand oor die Kerstyd in kwarantyn wil wees nie, is dit in hierdie stadium ʼn werklikheid.

“Ek dink nie die All Blacks sal gemaklik daarmee wees as ons ʼn ander stel reëls vir hulle skep nie,” het Ardern gesê.

Ardern het in ʼn onderhoud met die staatsuitsaaier TVNZ gesê sy hoop dat reisbeperkings tussen Australië en Nieu-Seeland voor die einde van die jaar opgehef kan word.

Die ophef van reisbeperkings tussen die twee lande word al maande lank bespreek, maar dit is ontwrig nadat tweede golf van die virus Melbourne in Australië getref het. Dit is boonop gevolg deur nog ʼn uitbreking in Auckland in Nieu-Seeland.

Volgens Reuters het Australië se rugbybreier, Dave Rennie, Sondag sy simpatie met die All Blacks te kenne gegee. Rennie het gesê hy hoop ook reisbeperking kan teen Kersfees opgehef word sodat die spelers reguit na hul gesinne kan terugkeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

koos10 ·

Ek het ‘n plan vir hulle. Laat hulle ANC stem dan tel geen inperkings regulasies vir hulle nie, maklik. Skuus, vir ‘n oomblik gedink hulle is van SA af.

Nici ·

Wanneer hulle praat van ‘n golf is daar dalk ‘n dosyn mense in die land in ICU. Hierdie virus gaan elke winter met ons wees nes influenza. Dalk kan die speler saam met hul families by die huis isoleer? Die wereld gaan moet bykom en besef dat ons met hierdie virus gaan moet saamlewe.

Johann ·

Plaas hulle vang hulle n lift by een van hulle ministers…dan is hulle los van enige en alle reëls van inperking en aanspreeklikheid. Vra vir ACE en sy comrades…hulle ken van sulke planne.

Persheks Adri ·

Met Ace ja! Skuus ek lag nou lekker vir jou kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.