Alle Mali-gyselaars vrygelaat; minstens 27 mense dood

Die voorportaal van die Radisson Blu in Mali waar hotelgangers op 20 November 2015 gyselaar gehou is Foto: BBC

Die voorportaal van die Radisson Blu in Mali waar hotelgangers op 20 November 2015 gyselaar gehou is Foto: BBC

Minstens 27 mense is dood nadat ʼn groep, glo ʼn filiaal van Al-Kaïda, Vrydag op die Radisson Blu-hotel in Bamako, Mali toegeslaan en die hotelgangers gyselaar gehou het.

Smail Chergui, vredeskommissaris van die Afrika-Unie, het bevestig dat die gyselaarsdrama nou verby is. “Ons treur saam met die families van die onskuldige persone wat hul lewens in die terreur-aanval verloor het,” het hy op Twitter gesê.

AFP het ook berig daar is nie meer enige gyselaars in die hotel nie.

Reuters-nuusagentskap het vroeër berig minstens 27 mense is dood. Die amptelike dodetal is egter nog nie bekend gemaak nie.

Brett McGurk van die Amerikaanse koalisie wat die sogenaamde Islamitiese Staat (ISIS) bestry, het aan MSNBC gesê dit is nog te gou om te sê of Vrydag se gyselaarsdrama in Mali met die terreuraanval verlede week Vrydagaand in Parys verbind kan word.

Al-Kaïda in die Islamitiese Maghreb (AQIM) en sy filiaal al-Murabitoun, wat gelei word deur die Algeriese militant Mokhtar Belmokhtar, het gesamentlik aanspreeklikheid aanvaar vir die aanval, het die Mauritiaanse nuusagentskap, Al-Akhbar, berig. Al-Akhbar word beskou as ʼn geloofwaardige bron van inligting oor al-Murabitoun-aksies en die groep het al ʼn paar keer boodskappe deur dié nuusagentskap gepubliseer. Al-Jazeera het ook gesê hulle het ʼn afskrif ontvang van die verklaring. Dit is nie duidelik of Belmokhtar nog leef nie.

Die hotel is veral gewild onder buitelandse sakemanne en vliegtuigbemanningslede.

Die uitvoerende hoof van Rezidor, die Amerikaanse maatskappy wat Radisson Blu besit, het ‘n videoverklaring uitgereik:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.