Alle vroue en meisies in “Kalifaat” moet besny word

IsisTerwyl die oë van die wêreld op die Gasastrook en Oekraïne gerig is, speel ‘n groot menslike tragedie hom in Sirië en Irak af waar radikale Moslems ‘n Kalifaat uitgeroep het.

Die jongste fatwa wat uitgereik is, las dat alle vroue en meisies in die “kalifaat”, wat groot dele van Irak en Sirië insluit, die vroulike besnydenis moet ondergaan. Die afgelope Sondag was die eerste keer in 1 600 jaar dat daar geen Christelike mis in die stad Mossoel was nie, wat deur die militante Isis verower is. Massoel het voor die oorname na berig word sowat 60 000 Christene gehad, meestal Assiriërs wat al eeue lank in vrede saam met hul Moslembure woon.

Isis, wat deur die neo-Salafisme gerig word, het Christene egter een van drie keuses gegee. Hulle moet hulle tot die Islam bekeer, of hulle moet ‘n baie swaar belasting betaal, of hulle word tereggestel. Talle het na die selfregerende Koerdistan gevlug. Hulle word egter onderweg deur die Isis van alle besittings beroof, en sommiges moes dan sowat 50 kilometer te voet tot in Koerdistan aflê.

Intussen is die wiele in Koerdistan aan die rol vir volkome onafhanklikheid. Dit word deur die sentrale regering in Bagdad teengestaan, maar is in wese magteloos terwyl die regering in elk geval sukkel om hond haaraf te maak teen die oprukkende Isis. Isis het onlangs ook in Sirië ‘n belangrike olieveld oorgeneem, en na berig word ‘n groot aantal gevangenes daarna koelbloedig vermoor. Isis het aanvanklik onder die vlerke van Al Kaïda ontstaan, maar Al Kaïda het bande verbreek omdat Isis “te erg” is. Die Sharia word streng in gebiede toegepas wat deur Isis beheer word.

Al hoe meer berigte oor die onmenslike vergrype haal nou weer die nuus namate die wêreld “gewoond” begin raak aan die verwikkelinge in Gasa en Oekraïne, en die media-aandag weer elders heen verskuif.
Die VSA het ook, volgens getuienis voor die Kongres, sy intelligensie-insameling oor Isis baie opgeskerp, en kennis oor wat werklik aangaan is nou “in ‘n ander orde” as in Mei, aldus die getuienis van die VSA se adjunk-minister van buitelandse sake belas met Irak en Iran, Ben McGurk.

Bronne: Christian Science Monitor, Trouw, De Standaard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann ·

Die grootste oneer, pyn, leiding en ontneming van toekomstige lewensgenietinge is die besnydenis van vroue en meisies.

Dit was werklik nie God se plan met geloof nie.

Dat sulkes ‘n godsdiens so uit verband kan ruk is van die bose.
Dat sulkes hulle so verlekker in sadisme is van die bose.
Dat sulkes so magsbehep is oor onskuldiges en dié wat hulself nie kan verdedig is van die bose.

Vader, ek weet dit is moontlik dat ons vir ander geloofsgroepe mag bid waar dit met hulle bomenslik swaar gaan.

Wees asseblief daar met dié waar teregstelling soos ‘n skaduwee volg.
Wees asseblief daar waar dié teen hul wil in ‘n bose geloof ingedwing word.
Wees asseblief daar waar dié alle hoop op die lewe verloor het.
Wees asseblief daar waar hartseer, vrees en hopeloosheid deel van hulle lewe geword het.

Vader, ontwapen asseblief die sadiste.
Verander hulle asseblief van ‘n Saulus na ‘n Paulus.

Amen.

Trippie ·

Ek was eerlikwaar nie bewus daarvan dat vrouens en dogters ook “besny” word, of kan word nie. Goeie genade, moes eers gaan google. Inderdaad ONMENSLIK.

“Die omstredenheid van die prosedure berus op die feit dat dit geen gesondheidsvoordele inhou nie en dat die verminking of verwydering van ‘n vrou se geslagsdele wêreldwyd as ‘n skending van menseregte beskou word. Volgens die WGO is dit ‘n skending van kinderregte, ‘n persoon se reg tot gesondheid, veiligheid en liggaamlike integriteit, die reg om nie gemartel of aan wrede, onmenslike of afbrekende behandeling onderwerp te word nie, asook die reg tot lewe, in die gevalle waar die prosedure in die dood eindig.”

Grassie ·

Die meeste Westerse lande (ook mense in die Suide van Afrika) het hewige kritiek teen Israel omdat hulle besig is om die oorlog in Gaza oortuigend te wen. Intussen vind daar in die Midde Ooste ontsettende wandade en wreedhede plaas, soos onder andere in hierdie berig beskryf word, maar geen haan sal daarna kraai nie. Dink maar aan die 60,000 Christene wat vir hul lewens moet vlug, net omdat hulle Christene is. Ek kan die dubbele standaarde van die sg. “beskaafde” Westerse wêreld nie begryp nie.

Elizabeth ·

Dan noem hul hulself “mense”. Arme vrouens en meisies wat altyd moet ly onder dwase besluite wat geen sin hoegenaamd maak nie. Walglik. Dat die Christene bereid is om vir hul geloof te vlug eerder as om in te val by ander godsdienste sê klaar iets – laat mens net bid vir die stomme mense.

VerVanRyn ·

Ek sien hoeploos te min dat die lyn tussen Isis en Hamas getrek word. Hamas probeer om dieselfde soorte Islam-terreurstaat op die been bring, maar die Israeliete is die skuldiges omdat hulle terug baklei. Net omdat Israel ‘n gevestigde staat is wat die Muslims kan terug aanvat, en baie goed doen, is hulle skielik die varke in Palestina…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.