Almal kan nou aandeel in Picasso-skildery koop

‘n Skermskoot uit Sygnum en Artemundi se video oor dié kunswerk.

Aanhangers van die legendariese Spaanse kunstenaar Pablo Picasso kan binnekort ʼn aandeel in een van sy kunswerke koop. Beleggers sal egter nie altyd gereelde toegang tot dié werk hê nie.

Die Switserse digitale bank Sygnum het Donderdag aangekondig dat hy saam met Artemundi, ʼn fondsbestuurder wat spesialiseer in kunsbeleggings, werk om aandele in Picasso se 1964-kunswerk genaamd Fillette au Beret te verkoop.

Switserland se finansiële markwaghond, Finma, het Sygnum in 2019 toestemming gegee om as ʼn bank bedryf te word, wat dit een van die eerste kriptobanke in die wêreld maak.

“Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat die eiendomsreg op ʼn Picasso, of enige ander kunswerk, op die openbare blokketting deur ʼn gereguleerde bank uitgesaai word. Dit stel lede van die publiek in staat om aandele, wat Art Security Tokens (AST) genoem word, te koop. Die AST’s is soos ʼn kriptogeldeenheid,” het Mathias Imbach, uitvoerende hoof en medestigter van Sygnum, gesê.

Die waarde van die kunswerk is sowat vier miljoen Switserse frank (meer as R63 miljoen) en mense kan AST’s teen ʼn minimum prys van 5 000 Switserse frank (byna R80 000) koop.

“Kuns en kulturele voorwerpe wat eens slegs uitgehou is vir die rykstes of museums, kan nou ook deur Jan Alleman besit word sonder om die nodige kontakgroep of kapitaal te besit,” het Javier Lumbreras, uitvoerende hoof en medestigter van Artemundi, gesê.

Beleggers word egter nie gewaarborg dat hulle die kunswerk gereeld sal kan besigtig nie, aangesien dit in ʼn kluis in Switserland bewaar sal word.

Nietemin sal beleggers hul aandele op ʼn sekondêre mark kan koop en verkoop met behulp van blokkettingtegnologie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pietertjie ·

Ek dink ek moet begin om blokkies lugruim te verkoop: jy betaal ‘n klomp geld, en iewers in die lugruim “is dit dan joune. Eksklusief.”

Stephanus ·

Die mensdom weet om hulle op te hou, met die grootste nonsens!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.