Alpe-vliegramp: Twee operasangers was aan boord

Wrakstukke van die Germanwings-vliegtuig wat op 24 Maart 2015 in die Franse Alpe neergestort het Foto; NYDailyNews

Wrakstukke van die Germanwings-vliegtuig wat op 24 Maart 2015 in die Franse Alpe neergestort het Foto; NYDailyNews

(Foto’s van die ongelukstoneel volg onderaan die berig) Twee operasangers, Oleg Bryjak (54) en Maria Radner (34) was twee van die slagoffers aan boord die vliegtuig wat Dinsdag in die Franse Alpe neergestort het en waartydens al 150 persone aan boord gesterf het.

Bryjak en Radner het albei na Duitsland teruggekeer nadat hulle onderskeidelik die basbaritonrol en altrol in Richard Wagner se Siegfried in Barcelona vertolk het.

Reddingspanne sal na verwagting Woensdag teen sonsopkoms die helikoptervlugte na die afgeleë berggebied in die suide van Frankryk hervat. Die Airbus A320 van Germanwings, ʼn dogtersmaatskappy van Lufthansa, het Dinsdag in klaarblyklik goeie weerstoestande naby Prads-Haute-Bleone neergestort. Daar was 144 passasiers en ses bemanningslede aan boord Vlug 4U 9525 onderweg van Barcelona in Spanje na Düsseldorf in Duitsland.

Volgens owerhede was dit ʼn ongeluk en Duitse sekuriteitsbeamptes het aan Deutsche Presse-Agentur (dpa) gesê daar is geen bewyse van terrorisme nie.

Die gebied waar die vliegtuig neergestort het is onherbergsaam en die wrakstukke lê versprei oor die steiltes. Buiten die helikopterspanne is daar ook ʼn span van 65 reddingswerkers wat te voet die gebied aandurf.

Manuel Valls, eerste minister, het gesê die afgeleë gebied en reën bemoeilik die situasie vir die werkers en dit sal moontlik dae lank duur voordat al die oorskot herwin is.

ʼn Woordvoerder van Lufthansa het bevestig die 24 jaar oue Airbus het Maandagoggend ʼn tegniese probleem ondervind met die deur van sy neuslandingstoerusting. Die probleem hou verband met ʼn luikdeur wat moet oop- en toemaak wanneer die landingstoerusting ontplooi word en daar is glo tydens ʼn roetineherstel daaraan gewerk.

Carsten Spohr, voorsitter van Lufthansa, het gesê die vliegtuig was in ʼn “uitstekende toestand”.

Bernard Cazeneuve, Frankryk se minister van binnelandse sake, het gesê die vlugopnemer is opgespoor en is aan ondersoekbeamptes oorhandig vir analise. Volgens hom is 380 brandbestryders, 300 soldate, 12 helikopters en ʼn weermagvliegtuig ontplooi om te help met die herwinningspoging.

Francois Hollande, president van Frankryk, het in ʼn telefoonoproep sy medelye betoon met die Duitse kansellier Angela Merkel. Die Spaanse eerste minister Mariano Rajoy het ook sy meegevoel betuig met Merkel. Die drie leiers sal Woensdag die toneel besoek. Drie dae van rou het reeds in Spanje begin.

Volgens beamptes was daar minstens 67 Duitsers en 45 Spanjaarde aan boord. Daar was ook ʼn persoon van België, een van Denemarke, en twee persone, ʼn vrou en haar volwasse seun, van Australië. Volgens mediaberigte in Israel was daar ook ʼn 39-jarige sakeman van dié land aan boord.

Vlug 4U 9525 moes om 09:35 by Barcelona se El Prat-lughawe opgestyg het, maar die vlug is tot 10:01 vertraag. Die vlug sou om 11:55 in Düsseldorf geland het.

Thomas Winkelmann, uitvoerende hoof van Germanwings, het gesê die vliegtuig het om 10:45 sy normale vlughoogte van 12 000 meter bereik, maar het na een minuut begin daal. Volgens hom het die vliegtuig vir agt minute lank skerp gedaal voordat dit die grond getref het.

Franse lugbeheerkontrolleerders het om 10:53 kontak verloor met die vliegtuig toe hulle ongeveer 1 800 meter bo die grond was.

Volgens die Franse burgerlike lugvaartowerheid het die bemanning nie ʼn noodsein uitgestuur nie. ʼn Beampte van die lugbeheerkamer het ʼn noodsein uitgestuur nadat hy kontak verloor het met die vliegtuig.

Die vlieënier werk al 10 jaar lank vir Lufthansa en Germanwings en het 6 000 vlugure op die Airbus. Die A320-vliegtuig is in 1991 aan Lufthansa oorhandig. Die vliegtuig het 58 300 vlugure tydens 46 700 vlugte opgedoen en het Maandag ʼn finale roetineondersoek ondergaan.

Lees alle vorige berigte oor Germanwings op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Theresa ·

Dis baie tragies en ongelooflik hartseer. Maar ek verstaan nie wat gaan aan deesdae nie. Hoekom val al wat ‘n vliegtuig is. Die loodse is altyd uiters professioneel en het meer as die kota vliegure agter die rug en die vliegtuie is altyd gediens en in uitstekende toestande. Wat gaan aan…..?????

Dave ·

Jy ordryf Theresa. Die hoeveelheid vliegtuie wat verongeluk (vergeet die woord’val’ want daar is slegs enkele omstandighede wat ‘n vliegtuig kan laat val) vergeleke met ongelukke in padverkeer, maak vlieg steeds die veiligste manier van vervoer. Mediadekking is wyer en lugverkeer word meer.. Steeds is dit wêreldnuus wanneer so ‘n ongeluk gebeur wat bewys hoe seldsaam dit is.

Charlene ·

Dave. Ek stem nie saam jou nie nie. As dit soveel veiliger is waar is die vermiste vliegtuig, hoeveel vlieguie het die aflope 6 mnde geval – sonder enige oorlewendes. En die so-genaamde geleerdes trek net hulle skouers op en sê “Oeps, ons weet nie wat fout gegaan het nie”. As ek nie nie die plek kan ry nie, gaan ek nie. Dis die een vlieg ramp na die ander. Dis tragies, mens glo dis beiliger en kyk wat gebeur. Vliegtuie verwdyn, deure sluit hulle self…… nee dankie vlieg is nie vir my nie.

Anoniem ·

Dit is logies wat aangaan. Ons lewe in die laaste dae. Glo en verstaan die word van God en wees gereed wanneer Hy sy kinders kom haal.

Piet Pompies ·

Dit is nie waar dat daar deesdae meer vliegtuig val, dit is net meer tragies as ‘n vliegtuig val omdat so baie mense oop een slag omkom. Daar is baie meer lugverkeer in Europa as ‘n paar jaar terug, by die lughawens is die verkeer so erg dat as een vliegtuig op ‘n aanloop baan opstyg is daar een besig om agter hom te land. Die mens het ‘n groter kans om in ‘n motor ongeluk te sterf as ‘n vliegtuig ongeluk. Lekker rondvlieg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.