Alpe-vliegramp: Vlieënier glo uitgesluit uit kajuit

Wrakstukke van die Germanwings-vliegtuig wat op 24 Maart 2015 in die Franse Alpe neergestort het Foto: Mirror.co.uk

Wrakstukke van die Germanwings-vliegtuig wat op 24 Maart 2015 in die Franse Alpe neergestort het Foto: Mirror.co.uk

Een van die vlieëniers van die Airbus A320 van die Germanwings-lugredery wat Dinsdag in die suide van Frankryk neergestort het, het volgens data van die kajuitopnemer kort voor die ongeluk die kajuit verlaat en kon nie weer inkom nie.

Die New York Times berig daar kan op die klankband van die kajuitopnemer gehoor word hoe die vlieënier terug in die kajuit probeer kom. Hy klop glo eers aan die deur, maar daar is geen antwoord nie. Hy klop harder en begin naderhand aan die deur slaan, maar steeds geen antwoord nie.

ʼn Senior weermagbeampte wat by die ondersoek betrokke is, het aan die New York Times gesê dit is nog onduidelik hoekom die vlieënier die kajuit verlaat het, maar dit is wel duidelik dat die ander vlieënier aan die einde van die vlug alleen is en nie die deur oopmaak nie.

Volgens die beampte het die vliegtuig oor ʼn tydperk van sowat 10 minute met 38 000 voet gedaal en hoewel dit kommerwekkend is, het die daling steeds geleidelik genoeg plaasgevind om aan te dui dat die vliegtuig nie katastrofies beskadig is nie.

Die Airbus A320 van Germanwings, ʼn dogtersmaatskappy van Lufthansa, het Dinsdag in klaarblyklik goeie weerstoestande naby Prads-Haute-Bleone neergestort. Daar was 144 passasiers en ses bemanningslede aan boord Vlug 4U 9525 onderweg van Barcelona in Spanje na Düsseldorf in Duitsland.

Die gebied waar die vliegtuig neergestort het, is onherbergsaam en die wrakstukke lê versprei oor die steiltes.

Volgens beamptes was daar minstens 67 Duitsers en 45 Spanjaarde aan boord. Daar was ook ʼn persoon van België, een van Denemarke, en twee persone, ʼn vrou en haar volwasse seun, van Australië. Volgens mediaberigte in Israel was daar ook ʼn 39-jarige sakeman van dié land aan boord.

Lees alle vorige berigte oor Germanwings op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.