Altesaam 69 joernaliste in 2015 vermoor

Argieffoto

Argieffoto

Altesaam 69 joernaliste is vanjaar wêreldwyd gewelddadig tydens die uitvoering van hul werksaamhede dood, aldus die Komitee vir die Beskerming van Joernaliste wat in New York gesetel is.

Organisasies wat deur die radikale Islam gerig word, soos Al Kaïda en die Islamitiese Staat, was vir 28 sterftes verantwoordelik. Sirië, waar dertien joernaliste dood is, was die gevaarlikste land vir verslaggewers.

Joel Simon, uitvoerende direkteur van die komitee, sê die verslag word gebaseer op feitelike data.

“Sirië was die gevaarlikste land vir joernaliste om te werk, omdat die land oorval is met terroristeaanvalle van die IS en ander militantegroepe. Joernaliste wat daar gaan werk, loop ʼn groot risiko,” het hy gesê.

Joernaliste wat vermoor is, sluit in die agt joernaliste van die tydskrif Charlie Hebdo in wat in Januarie in Parys doodgeskiet is omdat hulle karikature van die Mosleemprofeet, Mohammed, gepubliseer het. Die militantegroep Al-Kaïda het verantwoordelikheid vir dié moorde geneem.

Volgens die verslag het minstens 28 van die oorlede joernaliste dreigemente voor hul dood ontvang omdat hulle oor sensitiewe sake verslag gedoen het. Verskeie joernaliste is ook dood weens verslaggewing in konfliksones.

Brasilië het vanjaar ʼn hoër syfer vir die moord van joernaliste aangeteken as ooit vantevore met agt joernaliste wat dood is. Dit sluit die radio-omroeper Gleydson Carvalho in, wat in die ateljee doodgeskiet is asook die omstrede skietery op die verslaggewer Alison Parker en videojoernalis Adam Ward van die televisiestasie WDBJ wat albei tydens ʼn lewende uitsending doodgeskiet is.

Die moorde het wêreldwyd opspraak verwek oor die impak wat ekstremiste en geloof op die geteikende lande en die joernalistieke bedryf het.

ʼn Verslag deur Verslaggewers Sonder Grense (RSF) het gesê daar is nog 43 ander joernaliste dood, maar waarvan die omstandighede onbekend is.

“Joernaliste is ʼn teiken, en die verslag bevestig dit. Die situasie is ʼn wêreldwye bedreiging,” het Simon gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

vermeende ·

En hoeveel boere het die jaar alleen gesterf in die uitvoering van hulle pligte en dit is net in SA???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.