Amazon koop MGM Studios

Daniel Craig as James Bond in “Skyfall” (Foto: MGM.com/JamesBond)

Amazon het ingestem om Metro-Goldwyn-Mayer Studios vir $8,45 miljard aan te koop, het die maatskappye Woensdag gesê. Dit bied ʼn yslike groot biblioteek aan die Amerikaanse tegnologie-reus om sy ambisies in aanlyn stromingsdienste uit te brei.

Die ooreenkoms gee ʼn hupstoot aan Amazon Prime Video, wat met Netflix en ander in die vinnig veranderende mark meeding – met sowat 4 000 flieks insluitend die James Bond-franchise en 17 000 televisiereekse.

“Die werklike finansiële waarde in dié ooreenkoms is die skatkis van intellektuele eiendom in die katalogus wat ons graag saam met MGM se talentvolle span verder wil uitbrei en ontwikkel,” het Mike Hopkins, senior adjunkpresident van Prime Video en Amazon Studios, gesê.

Die ooreenkoms kom terwyl Amazon ʼn toename beleef in aanlyn handel en rekenaar-wolkdienste, terwyl hy die vermaakbedryf betree soos wat gebruikers hul na stromingsdienste wend.

Metro-Goldwyn-Mayer is ʼn ikoniese naam in Hollywood en het al ʼn rits veranderinge in eienaars en bankrotskap beleef oor die afgelope paar jaar. Buiten die James Bond-franchise beskik MGM ook oor die regte van films soos Rocky, Legally Blonde en Tomb Raider en televisiereekse soos The Handmaid’s Tale en Real Housewives of Beverly Hills.

“MGM het byna ʼn eeu se geskiedenis in die filmbedryf en komplementeer die werk van Amazon Studios, wat primêr daarop fokus om televisieprogramme te vervaardig,” lui ʼn verklaring van die maatskappye.

“Amazon sal help om MGM se nalatenskap en katalogus flieks te beskerm en groter toegang te bied aan gebruikers tot bestaande werk. Deur dié aanskaffing word MGM deur Amazon bemagtig om te doen wat hulle die beste doen: om uitstekend stories te vertel.”

Volgens Amazon het sy Prime Video sowat 175 miljoen gebruikers wêreldwyd. Sy Manchester by the Sea (2017) het die eerste fliek van ʼn stromingsdiens geword om benoem te word vir ʼn Oscar-toekenning vir Beste Fliek.

MGM Studios, wat die afgelope paar jaar gesukkel het om lokettreffers in te palm, hou nie verband met die MGM Resorts Group wat hotelle en casino’s wêreldwyd besit nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.