Ambassadeur wil popster ontmoet ná konsert-kansellasie

Lorde.

Itzhak Gerberg, Israel se ambassadeur in Nieu-Seeland, het Woensdag die popster Lorde genooi vir ʼn ontmoeting nadat sy haar konsert in die Israeliese hoofstad, Tel Aviv, gekanselleer het.

Die konsert wat deel uitmaak van haar wêreldwye Melodrama-konserttoer, sou in Junie volgende jaar plaasvind. Die kansellasie kom nadat aktivistegroepe op 21 Desember in ʼn brief ʼn beroep op die “Green Light”-sangeres gedoen het om haar rug op Israel te keer uit protes teen dié land se behandeling van die Palestyne.

Gerberg het in ʼn openbare brief gesê dit is “jammer” dat die vertoning gekanselleer is en bygevoeg die boikot van sy land verteenwoordig “vyandigheid en onverdraagsaamheid”.

“Ek nooi jou uit om my persoonlik te ontmoet om oor Israel, sy prestasies én sy rol as die enigste demokrasie in die Midde-Ooste te gesels,” het Gerberg op die Israeliese ambassade se Facebook-blad geskryf.

Lorde se verteenwoordigers het nie onmiddellik gereageer op navrae of sy beplan om die ambassadeur te ontmoet nie.

“Jou optrede in Tel Aviv sal gesien word as ondersteuning van die Israelse regering, selfs al lewer jy geen kommentaar oor die politieke situasie nie,” het aktiviste Justine Sachs en Nadia Abu-Shanab op die nuuswebwerf The Spinoff geskryf.

“Ons glo dat ʼn ekonomiese, intellektuele en kunsteboikot ʼn effektiewe manier sal wees om ʼn standpunt te neem,” het hulle gesê.

Die 21-jarige Lorde het op Twitter gesê “sy gesels met baie mense hieroor en oorweeg alle opsies”.

Eran Arielli, een van die bemarkers van die konsert, het Sondag op Facebook gesê die konsert is gekanselleer.

“Die waarheid is dat ek naïef was om te dink dat ʼn kunstenaar van haar ouderdom in staat sal wees om soveel druk oor haar opkomende konsert in Israel te hanteer,” het hy in Hebreeus geskryf.

Kunstenaars wat Israel in die verlede geboikot het sluit Elvis Costello en Pink Floyd se Roger Waters in. Ander bekende kunstenaars soos Elton John, Aerosmith, Guns N’ Roses, The Rolling Stones, Justin Bieber en Rihanna het onlangs in Israel opgetree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Justice ·

Steve sou in elk geval `n baie beter keuse as plaasvervanger vir Lorde se konsert wees.

bgj van der westhuizen ·

wel dan moet hulle net haar cd s ook nie daar toe laat om te verkoop nie

HPV ·

“Shame” Israel sal haar nie mis nie, sy is beslis vervangbaar. Nou hoekom nooi die Palestyne haar nie sommer nie.

Stephen Namibia ·

HPV jou kommentaar in die kol. Gatvol vir die klomp Liberale.

Cherokee ·

Waarskynlik weet sy te min van politiek om liberaal te wees. Bloot aangesê deur die grootmense om dit te boikot.

PJC ·

Popsterre wat dink hulle kan ń land afdreig is doodeenvoudig arrogant en nie die naam kunstenaar werd nie. Dit is sulke arrogante libs wat dink hulle kan namens almal besluit en moet doodeenvoudig geignoreer word. Kyk waarin het liberalisme hierdie mooi land van ons gedompel. Na my mening is liberalisme net ń ander woord vir onnoselheid.

Ilse Young ·

Sjoe mense, hier is ñ baie groter kwessie as wat ons in SA oor die algemeen van bewus is. Israel is ñ boelie en ñ arrogante land, wat sy skrikbewind met Amerika se geldelike en politieke steun voer. Jy hoef net te kyk hoe hulle onwettig op Palestynse grond meenthuiskomplekse bou, soldate Palestynse kinders in die ergste graad intimideer, mense in die middel van die nag opklop om hulle skrik te maak en vrees in te boesem… nee wat, hoe meer mense se oë kan oopgaan vir die ware Israel hoe beter…. if you don’t stand for something you will fall for anything…. respek en agting vir kunstenaars wat voet neersit teen sulke boelies…

johan II ·

Dankie Ilse, jy slaan die spyker op sy kop. Hul kom weg met moord.

Cherokee ·

Ilse, jy moes bygevoeg het dat dìt is wat jy dink. Moet dit nie as feite te stel asof dit werklik so is nie.

Willem ·

Ilse, vertel ons wat jy weet van verdraagsaamheid, vroueregte, godsdiensvryheid , mediavryheid, demokrasie en die miskenning van die bestaansreg van die Joodse volk in Arabiese en ander Moslemlande voor jy weer ‘n hoogheilige oordeel oor Israel se stryd om oorlewing uitspreek.

HPV ·

Vir Israel gaan dit om selfverdediging en bekerming van sy mense, anders as wat ons van Suid Afrika kan sê. Vyftig sterf per dag en ons tel voort! Voorstel, Ilse bekommer jou eers oor die onverklaarde oorlog in jou eie land dan oor Israel. Leer ook die feite insake Israel voor jy kant kies. As weermag veteraan steun ek Israel. “Brothers in war”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.