Amerika onttrek hom aan Sirië

Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê die stryd teen die IS in Sirië is gewonne. (Foto: Ting Shen, Xinhua)

Die VSA sê hy is besig om sy troepe aan Sirië te onttrek nadat pres. Donald Trump verklaar het die terreurgroep Islamitiese Staat (IS) is verslaan.

Sowat 2 000 soldate het IS in die noordooste van die oorlogmoeë Sirië grotendeels uitgewis, maar plek-plek bly nog groepies vegters oor, berig die BBC.

Vroeër is aangeneem verdedigingsbeamptes wou Amerika se teenwoordigheid in Sirië handhaaf om te keer dat IS sy strydmagte herbou.

Sarah Huckabee Sanders, Withuis-woordvoerder, het egter in ʼn verklaring gesê: “Hierdie oorwinnings oor die IS in Sirië beteken nie die einde van die koalisie of sy veldtog nie.” Amerika sal sy troepe huis toe bring “terwyl ons begin oorskakel na ʼn nuwe fase in die veldtog”, het sy volgens Deutsche Welle gesê.

Hoewel militêre sekuriteitsraadgewers Trump probeer oortuig het om nie opdrag vir die onttrekking te gee nie, het hy vasgeskop. Amptenare het aangevoer die onttrekking sal Koerdiese vegters in die steek laat en Amerika se geloofwaardigheid in gedrang bring.

Maar die voormalige Trump-raadgewer Christian Whiton skryf in ʼn meningstuk vir Fox News die besluit om al 2 000 soldate binne 60 dae te onttrek, moet gevier word as “ʼn groot oorwinning oor die IS-terreurgroep en die vervulling van Trump se belofte om nie by nasiebou betrokke te raak nie”.

Stabilisering was nooit sy doelwit nie.

Trump het sy presidentsveldtog gevoer met die belofte dat hy die IS sou verpletter, skryf Whiton. “Stabilisering was nooit sy doelwit nie en dit moes ook nie gewees het nie.

“Sirië is steeds in ʼn burgeroorlog gewikkel … maar om pres. Basjar al-Assad te vervang, sal ʼn groot oorlog soortgelyk aan dié in Irak verg en ʼn nasie wat verpletter is deur agt jaar se bloedige konflik, aan ernstige lyding onderwerp.”

Die VSA se bondgenote is egter nie gelukkig met die onttrekking nie. Brittanje se minister van verdediging, Tobia Ellwood, het dadelik op die Withuis se aankondiging gereageer en gesê hy “verskil ten sterkste” van Amerika se besluit, berig Sky News.

“[Die IS] het ontaard in ander vorme van ekstremisme en hou beslis steeds ʼn bedreiging in,” het hy getwiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

John ·

Nou toe nou. Al gehoor van Rusland? Nie? Hierdie is darem ‘n verskriklike eensydige siening van die gebeure in Sirie. Dis nou wat mens his-story noem en dan word dit in die annale aangeteken… seker ook soos dat die VSA vir Hitler en sy Nazi’s uitgewis het… Nee, die VSA het so te se vir Japan uitgewis.

Daan Erasmus ·

Een senior diplomaat van die USA het gesê: ons het ‘n president met ‘n beperkte aandag span. En beperkte kennis van die saak. Senatore van albei partye sê Trump weet nie wat hy doen nie.

willem Botha ·

Die beste presedent in wêreld, ek wens ek was n amerikaanse burger.

Daan ·

Willem. Willem. Willem. Staal Burger hier. Trump is dalk die beste. Ons weet nie vir wat nie. Maar ‘n man wat Stormy Daniels moes omkoop is my my soort nie.

anton ·

Ja die mense wat vir Pres. Trump so afskiet is seker dol verlief op die regering van S.A!!!
Gelukkig hoef n mens jou nie te steur aan die libs van S.A nie want hulle sal nooit die ”lig” raaksien nie.
Niemand is so blind soos die wat nie wil sien nie en doof soos die wat nie wil hoor nie!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.