Die twee Amerikaanse sendelinge wat die ebola-virus opgedoen het toe hulle in Liberië gewerk het, is gesond en uit die hospitaal in Atlanta, Amerika, ontslaan.
Kent Brantly (33) en Nancy Writebol (60), het verlede maand die virus in Monrovia opgedoen en is met ʼn vliegtuig na die Emory-universiteitshospitaal in Amerika geneem.
“Die twee pasiënte se ontslag hou geen bedreiging vir openbare gesondheid in nie,” het Bruce Ribner, direkteur van die eenheid vir aansteeklike siektes, Donderdag gesê. Writebol is al op 19 Augustus ontslaan, volgens ʼn verklaring van SIM USA, die noodleningsgroep vir wie sy gewerk het.
Brantly het glimlaggend en met sy vrou aan sy sy saam met dokters van die hospitaal aan ʼn perskonferensie deelgeneem.
“Al twee pasiënte is gesond en kan terugkeer na hul gesinne en gemeenskappe sonder enige kommer dat die virus gaan versprei,” het Ribner bygevoeg.
Die president van Samaritan’s Purse, die Christelike sendinggroep vir wie Brantly gewerk het, het hom vir sy “dapper gees” geloof. “Alle eer aan God vir dr. Kent Brantly se gesondheid,” het Franklin Graham gesê.
Meer as 1 350 mense is reeds sedert Maart in Liberië, Guinee, Sierra Leone en Nigerië aan die virus dood.
Aaron Motsoaledi, die minister van gesondheid, het Donderdag ʼn onmiddellike reisverbod geplaas op nie-Suid-Afrikaanse burgers van lande wat deur die ebola-uitbreking geraak word. Klik hier om meer te lees.