Amerikaanse owerhede op soek na dié SA man

Barrett Preston Busschau. Dié foto is in 1993 geneem. Foto: FBI

Die FBI in die VSA het ʼn reusebeloning uitgeloof vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van ʼn Suid-Afrikaanse man wat in Oregon in verband met verskeie seksaanklagte gesoek word.

Barrett Preston Busschau is op 27 Julie 1993 in die Clackamas-distrik in hegtenis geneem vir die beweerde molestering van vyf meisies, tussen vyf en 15 jaar oud. Busschau was toe vermoedelik 18 jaar oud.

Volgens inligting wat deur die FBI uitgereik is, staan Busschau tereg op ʼn reeks aanklagte wat seksuele aanranding, verkragting en sodomie insluit. Busschau is op borgtog vrygelaat hangende die verhoor teen hom, maar het op die vlug geslaan en nie op 4 Oktober 1993 in die hof verskyn soos hy moes nie. ʼn Lasbrief vir sy inhegtenisneming is kort daarna uitgereik.

Volgens die FBI is Busschau in Johannesburg gebore, maar het hy in 1984 na die VSA gereis en is hy in 1989 permanente verblyfstatus toegeken. Die owerhede glo Busschau kon moontlik in die tyd sedert hy op die vlug geslaan het na Kalifornië of Panama gereis het, maar vermoed hy woon tans in Suid-Afrika.

Busschau gebruik ook die name Barrett Preston Bussachau, Barrett Preston Busschall en Barrett Busschall. Hy het bruin hare, blou oë en is tussen 1,6 en 1,8 m lank. Volgens die FBI het hy ʼn tatoeëermerk van ʼn groen en pers yin-yang-simbool met twee kolletjies langsaan op sy regterenkel.

Die FBI bied ʼn beloning van $10 000 (ongeveer R122 000) aan vir inligting wat direk tot Busschau se inhegtenisneming kan lei. Enigiemand met meer inligting oor waar Busschau homself bevind, word versoek om die FBI direk of die naaste Amerikaanse ambassade of konsulaat te kontak.

ʼn Kunstenaarsvoorstelling van hoe Barrett Preston Busschau moontlik nou lyk. Skets: FBI

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Tess ·

Agv ons ekonomiese situasie en die rand/dollar kan hierdie man homself as voelvry sien

Johan ·

Voelvry is nogal fie regte term. Lanklaas gehoor. Ja nee die R$ gaan nogal teen die ou tel nou? laat hy vir homkry

Trots Afrikaans ·

Barrett, as jy weet waar jy is, bel my, ons kan die geld deel. Ek sal jou 20% persent “finders fee” gee.

Veritas ·

Na 25 jaar soek hulle hom nou. Dit sê nie veel van die VSA regstelsel nie.

Jakoba ·

Ek glo nie hulle soek hom nou eers nie. Hy word al oor die jare gesoek. Regtig maak eers seker van jou feite voordat jy dom uitlatings maak. Hulle polisie is op en wakker en die FBI speel nie, glo my om iemand wat ‘n voortvlugtige is oor landsgrense en lande is nie so maklik om vas te trek nie, dit kan jare duur en hulle sal hom opspoor, en ander lande se polisie gee nie altyd hulle volle samewerking nie.

Veritas ·

Jakoba, jy moet ook bietjie verder dink. Hoekom word dit nou eers in die SA media gemeld? Verslaggewers spring vinnig op dié tipe storie en dit sou voorbladnuus in SA koerante gewees het as die plaaslike media 25 jaar terug, in kennis gestel was. Jou agting vir die VSA polisie is misplaas. Hulle is gladnie so wonderlik as wat Hollywood dit uitbeeld nie. Kry gerus ‘n paar reekse oor die VSA massamoordenaars en kyk maar self hoe dom die spul kan optree. Jy sal verbaas wees.

Marinda ·

Ek moet lag vir van die kommentaar. Dankie mense, julle maak my dag.

CASSIE ·

Ek weet nie eintlik wat om te dink van die VSA se regstelsel nie.Hoeveel mense is al ter dood veroordeel en na jare in die tronk word hulle op appel onskuldig bevind.Mense word na hulle lewenslange vonisse gekry het na jare vrygelaat na hulle op appel onskuldig bevind is Ek dink nog aan 9/11,waar was die intellegensie.Ek wonder maar net

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.