Amerikaanse regter Ruth Bader Ginsburg sterf

Ruth Bader Ginsburg (Foto: AP Photo/Marcio Jose Sanchez, File)

Ruth Bader Ginsburg, regter van die Amerikaanse hooggeregshof en stryder vir vroueregte, het gesterf.

Ginsburg is Vrydag by haar huis in Washington DC weens komplikasies van metastatiese pankreaskanker oorlede. Sy was 87 jaar oud.

Ginsburg was die oudste regter en die tweede vrou ooit om as regter in die Amerikaanse hooggeregshof te dien – ʼn posisie wat sy 27 jaar lank beklee het.

Ginsburg is in 1993 deur pres. Bill Clinton aangestel en het die afgelope jare as die mees senior lid van die hof se liberale vleuel gedien.

“Ons nasie het ʼn regsgeleerde van historiese formaat verloor,” het die Amerikaanse hoofregter John Roberts Vrydag in ʼn verklaring gesê.

Volgens Roberts sal Ginsburg as ʼn kampvegter vir geregtigheid onthou word.

Pres. Donald Trump het intussen Ginsburg as ʼn “titan van die regte” bestempel. “Haar opvattings, waaronder bekende besluite rakende die wettige gelykheid van vroue en gestremdes, het alle Amerikaners en generasies van groot regsdenkers geïnspireer,” het die president gesê.

Ginsburg het luidens berigte voor haar dood aan haar kleindogter Clara Spera gesê haar grootste wens is dat haar posisie nie gevul word totdat die nuwe Amerikaanse president verkies word nie.

Dié verkiesing vind op 3 November plaas.

DIe demokratiese Joe Biden stem hiermee saam. “Daar is geen twyfel daaroor dat die kiesers die president moet kies nie en dat die president dan die regter moet kies vir die senaat om te oorweeg,” het Biden gesê.

Mitch McConnell, leier van die senaat, het egter reeds aangedui dat die senaat, tans onder die beheer van die Republikeine, sal stem nadat Trump iemand genomineer het om Ginsburg te vervang.

Die Republikeine in die Senaat benodig net 51 stemme om ʼn nuwe regter in Ginsburg se plek aan te stel. Die Republikeine beheer tans 53 setels in die senaat, maar dit is onduidelik of McConnell die steun van die hele Republikeinse koukus sal hê.

Bronne: BBC, CNN, ANA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

4ntj13 ·

Sy was groter as groot in menseregte. Selfs op 87. Hartseer dat sy nie langer kon wag nie.

Chrisp ·

Dan was ongebore babas seker nie mense nie?
Een van die grootste kampvegters van aborsie , om haar naam saam met menseregte te noem is seker een van die beste vorms van huigelary.

Pieter J ·

Ek dink dit sal goed wees vir Amerika as ń meer konserwatiewe regter in haar plek aangestel word veral as ek sien watter skade liberaliste met hul oordrewe idee van menseregte al aangerig het in die wěreld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.