Amerikaners gaan 1,4 miljard vlerkies oor Super Bowl-naweek verorber

Amerikaners sal na verwagting 1,4 miljard vlerkies oor die Super Bowl-naweek eet. (Foto: National Chicken Council)

Dit word algemeen aanvaar dat alles in die VSA “groter” is: state, huise, voertuie, porsies en klaarblyklik ook Amerikaners se eetlus vir hoender gedurende die jaarlikse Super Bowl-voetbalkampioenskap.

Terwyl Suid-Afrikaners graag aan ʼn stukkie biltong of braaivleis gedurende sportwedstryde knibbel, voorspel die Nasionale Hoenderraad in die VSA dat sy landsburgers meer as 1,4 miljard hoendervlerkies sal verorber terwyl hulle op 11 Februarie na die kragmeting tussen die Kansas City Chiefs- en San Francisco 49ers-voetbalspanne kyk.

Naas Thanksgiving is die dag waarop die Super Bowl gespeel word, Amerika se grootste “eetdag”.

Maar waar ʼn kalkoen gewoonlik op Thanksgiving geniet word, is hoendervlerkies Amerikaners se voorkeurkos vir die Super Bowl-geleentheid, aldus die raad se 2024-hoendervlerkieverslag.

Maine is die enigste een uit die 49 state waar inwoners eerder kreef vir die geleentheid sal opdis.

“Voetbal is lekker. Hoendervlerkies is lekker. Saam is hulle nóg lekkerder,” het Tom Super, voorsitter van die Nasionale Hoenderraad, gesê.

“Natuurlik kan jy steeds jou skyfies, guacamole en pizza geniet. Maar wanneer dit by spyskaarte Sondag kom, kraai hoendervlerkies beslis koning.”

Maine is die enigste een uit die 49 state waar inwoners kreef bo hoendervlerkies vir die Super Bowl-geleentheid verkies. (Grafika: National Chicken Council)

Só word hoendervlerkies geëet

Volgens Super geniet die meeste Amerikaners (53%) ʼn hoendervlerkie aan die been eerder as ʼn ontbeende hoendervlerkie. Altesaam 38% van Amerikaners verkies steeds ʼn hoenderborsie, hoewel vlerkies 20% van Amerikaners se gunstelingsnit is.

Amerikaners sal na verwagting 1,4 miljard vlerkies oor die Super Bowl-naweek eet. (Foto: National Chicken Council)

Voorkeurdoopsouse vir hoendervlerkies is BBQ (52%), ranch (52%) en dan die gewilde tradisionele Buffalo-sous (41%) – wat ook lekker kan brand.

Aartappelskyfies is die voorloper wat bykos betref (72%), terwyl 14% ʼn slaaitjie saam met hul vlerkies geniet.

Hoe baie is 1,45 miljard vlerkies nou eintlik?

Om lesers te help visualiseer hoe baie 1,45 miljard hoendervlerkies is, het Super dit soos volg uiteengesit:

  • 1,45 miljard hoendervlerkies is genoeg sodat elke man, vrou en kind in die VSA vier vlerkies elk kan eet.
  • Indien Kansas City se afrigter, Andy Reid, elke dag 50 hoendervlerkies eet, sal dit hom 79 452 jaar neem om al 1,45 miljard hoendervlerkies op te eet.
  • 1,45 miljard hoendervlerkies is genoeg om 693 vlerkies op elke sitplek in elk van die 30 nasionale voetbalstadions in die land te plaas.
  • Indien dit langs mekaar uitgepak word, sal 1,45 miljard hoendervlerkies eenderde van die pad na die maan uitmaak.
  • Indien elke hoendervlerkie een sekonde vorentoe sou verteenwoordig, sou 1,45 miljoen hoendervlerkies 46 jaar van nou af gewees het.
@chickencheck.in

Americans are teaming up for the BigGame by collectively eating an anticipated, whopping 1.45 BILLION chicken wings! Say, if we could line up allllll those wings, what would that look like? ???????? Check out the full 2024 Chicken Wing Report in our bio.

♬ original sound – Chicken Check In – Chicken Check In

Volgens Super is groothandelpryse van hoendervlerkies vanjaar effens hoër, asook die aanvraag daarna.

Dit kan toegeskryf word aan ʼn effense afname in hoenderproduksie, asook die koue hoendervlerkievoorraad wat in November verlede jaar met 13% vergeleke met die vorige jaar afgeneem het.

Op ʼn kleinhandelvlak het die prys van vars hoendervlerkies met ongeveer 5% gedaal, terwyl die prys van bevrore hoendervlerkies met 11% afgeneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Rudolph ·

Soos Stalin gesê het “die dood van ‘n enkele persoon is ‘n tragedie, die dood van ‘n miljoen is ‘n statistiek. “
Die mishandeling en moord van sewe miljard weerlose, onskuldige hoenders vir Amerika se Super Bowl naweek word gereduseer na ‘n statistiek.

Bolandse Nooi ·

@JohanR … dis 725 000 hoennertjies want elke hoennertjie het mos twee vlerke. “Anyway” aggenee! Ek eet eerder die “quarter” van ‘n hoennertjie as daai “sample” stukkie vleisie.

Fooitog, en @Rudolph sien die regte van die hoennertjies raak … sjym, is seker maar beter kop-af as om as “broilery chickens” jou dag in kop-in-‘n -voerbak en tussen 10 000 000 ander braaikuikens (wat net 6 weke oud raak voor hulle kop-af gaan), te bly leef.

Henker ·

Net in VSA wat pryse afneem…
As dit nou hier by ons was het ons seker 25% verhoging gekry vergeleke met laasjaar se pryse. O ja.. dis eintlik 150% verhoog agv voëlgriep en onbekwame regering

Vrijburger ·

Gee julle my amper ‘n hartaanval deur al die state in die VSA, met die uitsondering van Maine, aan te dui as blou. Gebruik asb eerder ander kleure, nie rooi en blou nie, veral in ‘n verkiesings jaar. LOL.

Karina ·

Vraag: Hoeveel kilogram biltong en droëwors word ge-eet en bier gedrink tydens ‘n wêreld beker rugby stryd? Of enige rugby wedstryd gereken tydens rugby seisoen in Suid Afrika? Alhoewel baaaaie duurder, baaaaie lekkerder.

Jurie ·

Ek moet bieg, ek hou baie van vlerkies. ek toest altyd die vlerkies as ek by ‘n nuwe plek gaan eet. Ek dink ek sal die Super Bowl geniet, maar net vir die vlerkies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.