Amerikaners gemaan: ‘Verlaat Oekraïne nóú’

Oekraïnse veiligheidsmagte (Foto: Sergey BOBOK/AFP)

Pres. Joe Biden moedig Amerikaners aan om Oekraïne onmiddellik te verlaat.

“Amerikaanse burgers moet nóú gaan,” het Biden Donderdag in ʼn vooraf-opgeneemde onderhoud met NBC News gesê.

“Ons het te doen met een van die grootste leërs ter wêreld. Dit is ’n heel ander situasie en dinge kan vinnig hand uit ruk.”

Die Amerikaanse regering het sedertdien ʼn reisadvies uitgereik waarvolgens reisigers aangesê word om nié na Oekraïne te reis nie te midde van toenemende vrese dat Rusland die land kan binneval.

Biden het dit voorts duidelik gestel dat hy onder geen omstandighede Amerikaanse troepe na Oekraïne sal stuur nie – nie eers om Amerikaners te red in geval van ʼn Russiese inval nie.

“Dit is ’n wêreldoorlog wanneer Amerikaners en Rusland op mekaar begin skiet. Ons is in ʼn heel ander wêreld as wat ons nog ooit was.”

Die Amerikaanse regering beaam dit ook in die reisadvies wat uitgereik is. “Amerikaanse burgers in Oekraïne moet daarvan bewus wees dat die Amerikaanse regering nie in staat sal wees om Amerikaanse burgers te verwyder in die geval van Russiese militêre optrede op enige plek in Oekraïne nie.

“Militêre optrede kan enige tyd en sonder waarskuwing begin en sal ook die Amerikaanse ambassade se vermoë om konsulêre dienste te verskaf, insluitend bystand aan Amerikaanse burgers om Oekraïne te verlaat, ernstig beïnvloed.”

Rusland se troepe is die afgelope paar weke reeds op gereedheidsgrondslag langs die grens van Oekraïne geplaas, terwyl die VSA en Engeland dreig met sanksies en militêre aksie teen Rusland, sou hy die land binneval.

Rusland is vies oor die moontlikheid dat Oekraïne by Navo ingelyf gaan word, het Maroela Media vroeër vandeesweek berig.

Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling van die Solidariteit Beweging, het vroeër gesê ʼn volskaalse oorlog sal alles van internasionale handel tot oliepryse en die pryse van landbouprodukte negatief raak.

Kleynhans het egter gesê die kans op ʼn volskaalse soort Derde Wêreldoorlog tussen Rusland en die Weste is skraal. “Dit is hoogs onwaarskynlik. Die Amerikaanse burgery is negatief oor oorlog ná die oorloë in Irak en Afghanistan en daar is nie ʼn aptyt vir oorlog nie.

“En as die Amerikaners nie veg nie, sal die Europeërs nie veg nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Martin ·

Biden, kalmeer asb jy jaag almal se senuwees op hol. Die sneeu is besig om te smelt en dit is een groot modder spul daardie kant – die Russe sal nie nou so dom wees om in te beweeg nie…

JohanR ·

Maak nie saak hoeveel van ooral die wereld het gaan sit en met Hitler praatjies hy hy WOU oorlog maak. Maak nie saak hoeveel va ooral die wereld gaan sit en met Poetin praat hy het al lankal besluit hy WIL oorlog maak. 100000+ troepe en al die gereedskap kos nie bietjie elke dag nie. Hy gaan nie al daai geld mors as die finaale uitkoms die besit van die Oekraïne is nie.

Hoekom ·

Biden maak amerika se naam sleg met sy swak leierskap. Hoekom onttrek Rusland nie maar Biden doen, stert tussen die bene…

Staal ·

Hierdie is duidelik weer ’n VSA propaganda veldtog, selfs die president van Oekraïne sê die VSA moet bedaar, die mense wat aan die grens met Rusland bly gaan aan soos normaal. As hier oorlog uitbreek is dit direk voor die deur van die VSA

Johan ·

Dalk bevry Rusland die Oekraïners van NAVU en die EU diktatorskap, dit kan net beter met hul gaan. UK is uit, dalk tyd vir nog lande om bevry te word.

Kobie ·

Dis nie vir Putin om te besluit wat Oekraïene of enige ander lande doen nie.
Dis ń demokratiese, soevereine land. Die Russe het geen besigheid daar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.