Amerikaners maak gereed vir ‘donkerte’

(Foto: Scott G Winterton/The Deseret News via AP)

Miljoene Amerikaners maak gereed om Maandag die grootste sonsverduistering van die afgelope 99 jaar te beleef.

Volgens CBS sal dit die eerste keer in byna ʼn eeu wees wat die sonsverduistering van kus tot kus – dié keer glo tussen Oregon en Suid-Carolina – beleef kan word.

Volgens dié nuuswebwerf het talle winkels tussen die twee deelstate glo die afgelope week kennisgewingbordjies buite die gebou gehang om te sê dat al die sonsverduisteringbrille reeds uitverkoop is. Dié dorpies verwag glo miljoene toeriste wat deur die loop van Maandag (internasionale tyd) daarheen gaan reis om sodoende ʼn gehalte-uitsig van die sonsverduistering te hê.

“Die sonsverduistering gaan na verwagting die mees nagevorste en gefotografeerde verduistering in die geskiedenis wees,” het Nasa-navorsers gesê. “ʼn Veld in Salem net buite Oregon is in ʼn kampeerterrein omskep waar sowat 8 000 mense byeen gaan kom om daarna te kyk. Mense stroom in hul miljoene met teleskope en brille om dié eenmalige ervaring mee te maak.”

Volgens Nasa is dié sonsverduistering die eerste van sy soort wat oor só ʼn groot gebied deur miljoene mense gesien kan word. Die laaste kus-tot-kus-sonsverduistering wat Amerikaners beleef het, was in 1918.

“Om die waarheid te sê, was die laaste algehele sonsverduistering in Amerika in 1979 – en toe kon slegs vyf deelstate in die noorde van die land dit beleef. Dit is juis daarom dat daar soveel opwinding oor dié verskynsel is.”

Maandag se sonsverduistering gaan strek oor 14 deelstate. Dit sal op landoppervlak sowat 2 600 myl (sowat 4 100 km) lank strek en 120 km breed gesien kan word. Ander dele van Amerika wat nié tussen Oregon en Suid-Carolina val nie, sal ook ʼn gedeeltelike sonsverduistering sien.

Volgens CBS kan dorpe en stede tussen dié twee state verliese van sowat $200 miljard ly tydens die verduistering.

“Besighede wat tussen die twee state val, is gewaarsku dat hulle groot verliese gaan ly tydens die sonsverduistering omdat miljoene aangedui het dat hulle na plekke optrek waar hulle ʼn besonderse uitsig van die verduistering gaan hê. Die verduistering gaan egter ʼn ongelooflike uitwerking op duisende mense se moreel hê; iets wat nie aan geld gemeet kan word nie.”

Die algehele sonsverduistering gaan na verwagting vir twee minute en 40 sekondes aanhou.

Intussen het die Walliese sangeres Bonnie Tyler bevestig dat sy haar gewilde treffer, “Total eclipse of the heart”, aan boord ʼn passasierskip sal sing tydens dié sonsverduistering. Dié liedjie is twee keer so lank as wat die algehele sonsverduistering sal duur.

“Total eclipse of the heart” is deur Meatloaf (Jim Steinman) geskryf en in 1983 deur Tyler vrygestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.