Amerikaners vas oor moord in Namibië

Marcus Thomas en Kevan Townsend (Foto: The Namibian)

Kevan Donnell Townsend (34) en Marcus Thomas (34), Amerikaanse burgers, staan tereg op verskeie aanklagte in Namibië, waaronder ʼn klag van moord. Plaaslike media het berig die voorval spruit uit ʼn voorval nege jaar gelede.

Volgens The Namibian word die twee beskuldig van moord, roof met verswarende omstandighede, die invoer van vuurwapenonderdele in Namibië sonder ʼn lisensie, die besit van ʼn vuurwapen en ammunisie sonder ʼn lisensie en dwarsboming van die gereg.

Die staat voer aan die twee het laat in Desember 2010 van die VSA na Namibië gereis om die Namibiër, Andre Peter Heckmair (25), te vermoor. Heckmair is op 7 Januarie 2011 vermoor. Hy is in die kop geskiet toe hy in ʼn motor in Windhoek gesit het.

Die staat voer verder aan die twee Amerikaners het Heckmair telefonies gekontak en hom gemaan om hulle te ontmoet totdat hy ingestem het. Hulle het hom glo na ʼn straat in Klein Windhoek gelok waar hy doodgeskiet is.

Die twee mans is ʼn paar uur ná Heckmair se moord in hegtenis geneem. Twee getuies, Gaylo Kavari en Ashley Hendricks, het die twee uitgeken as die twee Amerikaners aan wie hulle in Januarie 2011 ʼn vuurwapen verkoop het. Albei mans het getuig oor die tatoeëermerke op die arms van die een man en ʼn ketting wat om sy nek getatoeëer is. Hulle het Townsend uitgeken as die persoon met die tatoeëermerke.

Volgens die getuies het hulle Townsend en Thomas aanvanklik op 2 Januarie 2011 in Windhoek ontmoet ná ʼn skoolvriend van Hendricks hom gekontak het om te hoor of hy iemand ken wat dalk ʼn vuurwapen wil verkoop.

Hulle het ʼn 7,65 mm-pistool van ʼn vriend bekom wat hulle kon verkoop. Die vuurwapen is vir N$1 000 verkoop, maar Thomas het gesê hy het ʼn probleem met sy bankkaart en kon in daardie stadium slegs N$500 betaal.

Hulle het getuig dat Hendricks se vriend, wat hulle aan die twee Amerikaners bekend gestel het, hulle vier dae later, op 7 Januarie 2011, gekontak het om te sê hulle kan die agterstallige N$500 kom haal.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michael ·

Die vuurwapen vervaardigers moet n vuurwapen maak wat net sy eienaar kan afvuur en moet so ontwerp word dat sou die eienaar n nuwe wapen koop of doodgaan die wapen wat dan gediaktifeer is vernietig moet word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.