Amerikaners verlaat Afghanistan finaal

‘n Taliban-vegter patrolleer die lughawe in Kaboel nadat Amerikaanse magte na 20 jaar onttrek het. (Foto: Wakil Kohsar/AFP)

Die VSA het al sy troepe aan Afghanistan onttrek en te midde van oproepe van vernedering op tuisbodem en oorwinningsgeweervuur van die Taliban in Kaboel, ʼn einde gebring aan sy langste oorlog nog.

Die laaste Amerikaanse troepe wat verantwoordelik was vir ʼn desperate onttrekking uit die land het gisteraand uit Kaboel vertrek in ʼn onttrekking wat ernstige vrae laat ontstaan het oor die VSA se status as ʼn supermoondheid.

Talibanvegters het vinnig die lughawe oorgeneem en geweerskote afgevuur ter viering van die verstommende oorwinning wat die Islamitiese beweging behaal het twee dekades nadat Amerikaanse magte Afghanistan binnegeval en die Taliban ontsetel het.

Die Taliban erf egter ʼn verwoeste land, ten spyte van die miljarde dollar wat die VSA bestee het om dit te herbou. Groot armoede, droogte en ʼn bedreiging van die Islamitiese Staat (Isis) is net sommige van die uitdagings wat die nuwe regering in die gesig staar.

Talle Afghane is boonop vreesbevange vir ʼn herhaling van die Taliban se bewind tussen 1996 en 2000 – een wat gekenmerk is deur sy behandeling van vroue en meisies en ʼn wrede regstelsel.

Die Amerikaners se onttrekking kom kort voor ʼn spertyd van 31 Augustus wat Amerikaanse pres. Joe Biden gestel het vir ʼn beëindiging van die VSA se langste oorlog – een wat eindelik die lewe van meer as 2 400 Amerikaanse troepe geëis het.

Die vroeë onttrekking volg op ʼn dreigement van Isis, vyand van die Taliban, wat Amerikaanse magte by die lughawe wou aanval.

Dertien Amerikaanse soldate was onder die meer as 100 mense wat gesterf het toe selfmoordbomaanvallers van Isis verlede week die gebied rondom die lughawe aangeval het. Desperate Afghane het daar geskuil met die hoop dat hulle ʼn vlug uit die land sou kon haal.

Meer as 123 000 mense is in die Amerikaans geleide operasie uit die land geneem. Dit het begin kort nadat die Taliban op 14 Augustus beheer van die hoofstad oorgeneem het.

‘Verbysterend’

Genl.maj. Chris Donahue gaan aan boord van ‘n wagtende C-17-vliegtuig by die Hamid Karzai-lughawe in Kaboel. Donahue was die laaste Amerikaanse soldaat om Afghanistan te verlaat. (Foto: Jack Holt/US Central Command (CENTCOM)/AFP)

Biden het gesê hy sal die VSA later vandag toespreek, terwyl sy kritici voortgaan om hom te kasty vir sy hantering van die onttrekkingsproses.

“Ons kan nie eindelose oorloë veg nie, maar die omvang en gevolge van Biden se mislukking hier is verbysterend,” het die Republikeinse senator Rick Scott gesê.

“Pres. Biden het groot skande oor die Amerikaanse mense gebring,” het kongreslid Richard Hudson bygevoeg.

Biden se voorste diplomaat, minister van buitelandse sake Antony Blinken, kon nie veel meer bied as ʼn paar streng vermanings aan die Taliban nie.

“Enige regmatigheid en enige steun sal verdien moet word,” het Blinken gesê terwyl hy terselfdertyd aangekondig het dat die VSA sy diplomatieke teenwoordigheid in Kaboel opskort en sy bedrywighede na Katar verskuif.

Zabihullah Mujahid, die Taliban se woordvoerder in Kaboel, sê Afghanistan het nou “volle onafhanklikheid” ná die Amerikaners se onttrekking verwerf.

Anas Haqqani, ʼn senior Taliban-amptenaar, het op sy beurt gesê hy is “trots” om ʼn getuie te wees van hierdie “geskiedkundige oomblikke”.

AFP-korrespondente in die stad het oorwinningsgeweervuur van verskeie Taliban-padblokkades gehoor, asook die oproepe van oorwinning van vegters in die sogenaamde Groen Sone.

Onsekerheid by lughawe

Vliegtuie wag by die lughawe in Kaboel, enkele ure voor Amerikaanse magte die land finaal verlaat
het. (Foto: AFP)

Daar sal nou gekyk word hoe die Taliban vaar in sy eerste paar dae as regeerder van die land en daar word onder meer groot klem geplaas oor of die Taliban gaan toelaat dat buitelanders en Afghane die land verlaat.

Blinken sê ʼn klein getal Amerikaners – minder as 200, maar waarskynlik eerder naastenby ʼn 100 –  is steeds in Afghanistan, maar wil die land verlaat.

Duisende Afghane wat vir die Amerikaanse gesteunde regering gewerk het en nou aanvalle van weerwraak vrees, hoop ook om die land te verlaat.

Westerse bondgenote het hul spyt te kenne gegee dat nie alle Afghane wat die land wou verlaat, plek op vlugte gekry het nie.

Die VN se Veiligheidsraad het Maandag ʼn resolusie aanvaar wat van die Taliban vereis om te hou by ʼn ooreenkoms wat mense toelaat om Afghanistan in die komende dae vrywillig te verlaat en toegang aan die VN en ander noodlenigingsorganisasies te verleen. Die Taliban het egter nie ingestem tot die skep van ʼn sogenaamde “veilige ruimte” in Kaboel nie.

Gesprekke oor wie nou die Kaboel-lughawe sal bestuur, duur intussen voort.

Die Taliban het Turkye gevra om logistiek by die lughawe te hanteer, terwyl hulle beheer oor sekuriteit behou. Pres. Recep Tayyip Erdogan het egter nog nie die aanbod aanvaar nie.

Dit is ook nog nie duidelik watter lugrederye sal instem om na en van Kaboel te vlieg nie.

Burgerlike sterftes

Lede van die Taliban ondersoek die skade aan ‘n motor naby die lughawe in Kaboel nadat ‘n IS-voorbereide bom in die motor vernietig is. (Foto: Wakil Kohsar / AFP)

Isis-Khorasan, ʼn streeksgroep, hou intussen die grootste bedreiging ná die onttrekking van die Amerikaanse magte in. Hulle was verantwoordelik vir verlede week se verwoestende selfmoordbomaanval buite die lughawe.

Maandag het hulle ook beweer dat hulle ses vuurpyle op die lughawe gevuur het. ʼn Taliban-amptenaar het gesê die aanval is gefnuik danksy die lughawe se verdedigingstelsels.

In wat herinner aan die tragedie van burgerlike sterftes wat regdeur die oorlog voorgekom het en die VSA plaaslike steun gekos het, het ʼn Amerikaanse lugaanval in Kaboel, wat glo ʼn motorbom van Isis geteiken het, glo die lewe van verskeie kinders geëis.

Die VSA het Sondag gesê hy het ʼn lugaanval teen ʼn voertuig wat ʼn bedreiging vir die Kaboel-lughawe ingehou het, gedoen.

Lede van een familie het egter aan AFP gesê hulle glo ʼn dodelike fout is begaan en dat tien burgerlikes dood is.

“My broer en sy vier kinders is dood. Ek het my klein dogtertjie verloor… niggies en nefies,” het Aimal Ahmadi aan AFP gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

26 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Biden is n kommunis wat in die oue te huis moet wees. Die amerikaners gaan nou sien wat is n kommunis.

Kokerboom

VSA is ‘n moondheid in sy sonsondergang!

Nie Verbaas

En wat dink Biden gaan met die Amerikaners gebeur wat nog in Afghanistan is? Of sien hy dit maar as kollaterale skade?

RS

Hartseer dag vir daardie land! Al wat ons nou kan doen is bid vir die mense.

Biden sal sy dag kry, Trump sal weer president word!

Aai

Mense julle moet mooi kyk waar is al die terroris organisasies hulle raak nou baie groot in die wereld.En hulle word deur hulle vyande bewapen dit is ‘n groot probleem.Hulle het gedink om hulle geld weg te vat dit gaan help toe nie hulle word met die beste bewapen deur die een wat hulle geld gestop het.