Amy Winehouse-rok vir miljoene rande verkoop

‘n Foto deur afslaers Julien’s in Beverly Hills, Kalifornië, van die rok wat die sangeres Amy Winehouse in 2011 tydens haar laaste konsert in Belgrade, Serwië, gedra het. Sy is ‘n maand na die konsert oorlede. (Foto: Frederic J. Brown/AFP)

Die rok wat die sangeres Amy Winehouse tydens haar laaste vertoning gedra het, is Sondag vir $243,200 (sowat R3,6 miljoen), 16 keer meer as die geskatte waarde, verkoop op ʼn veiling in Kalifornië as deel van ʼn versameling memorabilia van dié diva.

Winehouse het in 2011 die rok met ʼn swart-en-groen bamboes-afdruk op ʼn konsert in Belgrado, Serwië, gedra. Sy is ʼn maand later op 23 Julie weens akute alkoholvergiftiging in die ouderdom van 27 dood. Haar dood was ʼn uiteinde van ʼn langdurige en baie openbare stryd met alkohol en dwelms.

Die rok was die hoogtepunt van die versameling wat sowat 800 van Winehouse se persoonlike items bevat het en het gewissel van onderklere en DVD’s tot boeke en grimering. Dit is deur Winehouse se ouers, Mitch en Janis, ten bate van die Amy Winehouse-stigting verkoop.

Die stigting ondersteun jong, kwesbare volwassenes wat ook ʼn stryd teen verslawing voer.

Volgens die afslaer Julien het die totale versameling $4 miljoen (sowat R60 miljoen) ingebring, twee keer meer as wat daar aanvanklik verwag is. Die veiling het van Saterdag tot Sondag gestrek.

Persoonlike items wat aan die ontslape sangeres Amy Winehouse behoort het is by die afslaers Julien’s in Beverly Hills, Kalifornië, ten toon gestel. (Foto: Kevin Winter/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

“Natuurlik is daar aanhangers, museums en versamelaars regoor die wêreld wat sommige van die items wil besit en in museums uitstal om haar nalatenskap lewend te hou en terselfdertyd geld vir die stigting in te samel,” het Martin Nolan van Julien voor die veiling gesê.

“Al die rokke sê iets omtrent Amy, ʼn fantastiese musikant, liedjieskrywer en mode-ikoon,” het hy gesê.

Nog ʼn hoogtepunt van die veiling was die hartvormige handsak wat pasgemaak is vir Winehouse deur die ontwerper Moschino vir die 2007 Brit-toekennings, wat vir $204,800 (sowat R3 miljoen) verkoop is.

Talle van die ander rokke wat sy tydens vertonings gedra het, is vir tussen $12,500 (sowat R190 000) en $150,000 (sowat R2,2 miljoen) verkoop.

Julien het ʼn katalogus van meer as 400 bladsye saamgestel wat die sangeres se kenmerkende retro-styl, wat van haar ʼn mode-ikoon gemaak het, ten toon gestel.

Die Grammy-bekroonde Winehouse wie se 2006-album Back in Black as ʼn klassieke moderne album beskou word, het gereeld in die openbaar oor haar stryd teen alkohol en dwelms gepraat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Belinda

Wow kan nie glo dis al so lank wat sy dood is nie.. how time flies.
Ek was mal oor haar musiek. So bly die fondse gaan vir n goeie doel.

Parmantige samaritaan

Sy het n uitstekende stem gehad. Ongelukkig het haar dwelm en drank verslawing haar vernietig. Wat n jammerte.