Animasiepionier dood gevind op Karibiese eiland

Daniel Langlois. (Foto: Facebook / Matthew Hays)

Die liggame van die Kanadese 3D-animasiepionier Daniel Langlois en sy lewensmaat, Dominique Marchand, is die afgelope naweek in ʼn verbrande motor op die Karibiese eiland Dominica gevind.

Die voorval is Sondag deur Langlois se voormalige verteenwoordiger, Sylvie Deslauriers, aan die Franse internasionale nuusagentskap AFP bevestig.

Volgens Deslauriers is drie mense in verband met die paartjie se dood in hegtenis geneem. Die ondersoek duur intussen voort.

Langlois en Marchand, wat ʼn luukse oord op die eiland bestuur het, was etlike dae lank vermis.

Die betrokke voertuig is Vrydag naby die dorp Gallion, in die suide van die eiland, gevind. Die polisie is ontbied nadat ooggetuies ’n brandende voertuig opgemerk het. Luidens ander internasionale berigte was die liggame onherkenbaar verbrand.

Die polisie het egter bevestig dat die insittendes inderdaad Langlois en Marchand is.

Kanada se departement van internasionale sake het gesê hy is “bewus van die vermoedelike dood van twee Kanadese burgers in Dominica”, sonder om hul identiteit te bevestig.

“Ons harte gaan uit na die families en geliefdes van die betrokke burgers, en ons agente is in verbinding met plaaslike owerhede om bykomende inligting te bekom,” het Marilyne Guèvremont, departementswoordvoerder, gesê.

Langlois het destyds beroemdheid verwerf met sy 3D-animasiemaatskappy Softimage. Dié maatskappy vervaardig 3D-sagteware wat al in verskeie bekende rolprente soos Jurrasic Park, Titanic, The Matrix, Harry Potter en Pirates of the Caribbean gebruik is.

Hy het die maatskappy in 1986 gestig en in 1994 aan Microsoft verkoop. Hy was egter tot 1998 steeds die maatskappy se president.

In 1997 het Langlois ’n Oscar vir wetenskap en tegnologie van die Academy of Motion Picture Arts and Sciences ontvang.

Pascale St-Onge, die Kanadese minister van erfenis, het Langlois se dood op sosiale media betreur.

“Sy nalatenskap weerspieël sy innoverende gees,” het hy op die platform X geskryf.

St-Onge het Langlois verder as ʼn “visionêr in digitale tegnologieë” bestempel.

Langlois is vroeër ook deur die Karibiese regering vereer vir sy bydrae tot die eiland se ontwikkeling. Hy en Marchand het die oord, Coulibri Ridge, in 2022 geopen. Dit was die derde luukse oord wat sy deure op die eiland oopgemaak het.

  • Bronne: AFP, Global News, Montreal Gazette

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.