Anni Dewani: Ondersoek uitgestel

Anni Dewani Foto: Facebook (Bron: dailymail.co.uk)

Anni Dewani Foto: Facebook (Bron: dailymail.co.uk)

ʼn Vergadering om te bepaal of ʼn geregtelike doodsondersoek na Anni Dewani se dood weer oopgemaak sal word, is vir nog ʼn maand lank uitgestel, het die Sunday Independent berig.

Die vergadering sou vandeesweek in Londen plaasvind, maar is uitgestel aangesien die betrokke partye nie beskikbaar is nie, het Anni se oom, Ashok Hindocha, aan die koerant gesê.

Die lykskouer van Noord-Londen, Anni se familie (die Hindochas) en Shrien Dewani se familie sal vergadering na verwagting die vergadering bywoon.

Dewani is in Desember deur regterpresident Jeanette Traverso in die Wes-Kaapse hooggeregshof vrygespreek op aanklag van Anni se moord. Traverso het beslis dat daar nie genoeg bewyse is om hom te vervolg nie.

Indien die geregtelike doodsondersoek voortgaan, sal Dewani gevra word om te getuig oor sy vrou se moord, wat hy nie tydens die verhoor in Suid-Afrika gedoen het nie. Volgens die wet in Engeland moet ʼn lykskouer alle onverklaarbare of skielike sterftes van sy burgers oorsee ondersoek.

Na ʼn duur en uitgerekte uitleweringsproses het Dewani se verhoor in Oktober in Kaapstad begin op aanklag dat hy met die taxibestuurder Zola Tongo en ander saamgesweer het om Anni tydens hul wittebrood in November 2010 te vermoor. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte insluitend ontvoering, moord en dwarsboming van die gereg. Hy het beweer die egpaar is op 13 November 2010 gekaap terwyl Tongo met hulle deur Gugulethu gery het.

Tongo dien 18 jaar tronkstraf uit vir sy aandeel in die moord en Mziwamadoda Qwabe is 25 jaar tronkstraf opgelê. Xolile Mngeni is tot lewenslange tronkstraf gevonnis, maar hy is op 18 Oktober weens ʼn breingewas in die gevangenis oorlede.

Monde Mbolombo, ontvangsdame by die hotel, het immuniteit ontvang op twee aanklagte tydens Mngeni se verhoor.

Lees alle vorige berigte oor Shrien Dewani op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eileen ·

Sterkte aan Anni se familie, en geregtigheid aan Anni. Hopelik sal die hof van Engeland Dewani aan die pen laat ry.

SNEL ·

Ek stem Eileen, hoop regtig hulle gee hom n straf wat hom toekom . Almal weet by is skuldig, net ons regstelsel wat dit nie kon sien nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.