Antieke dodeakker langs besige Parys-treinstasie ontdek

Argeoloë van Inrap by die antieke dodeakker by die Port Royal-treinstasie in Parys (18 April 2023) (Foto: Thomas Samson/AFP)

Wetenskaplikes het, net ʼn paar meter van ʼn besige treinstasie in die hartjie van Parys in Frankryk, sowat 50 grafte in ʼn antieke dodeakker ontdek. Dit bied ʼn seldsame blik op lewe in die Franse hoofstad se voorloper Lutetia byna 2 000 jaar gelede.

Die dodeakker is onverklaarbaar nog nooit vantevore ontdek nie alhoewel verskeie konstruksies oor die jare daar uitgevoer is, insluitend die konstruksie van die Port-Royal-stasie op die geskiedkundige oewer van die Seinerivier in die 1970’s.

Planne vir ʼn nuwe uitgang vir die treinstasie het egter nou tot ʼn argeologiese opgrawing gelei.

Camille Colonna, antropoloog by Frankryk se Nasionale Instituut vir Argeologiese Voorkomendheidsondersoeke (Inrap), het tydens ʼn perskonferensie gesê daar was reeds “sterk verrmoedens” dat die perseel naby aan Lutetia se suidelike dodeakker geleë is.

Die “Saint Jacques”-dodeakker, die grootste begraafplaas in die Gallo-Romeinse dorp Lutetia, is vroeër in die 1800’s gedeeltelik opgegrawe. Voorwerpe wat as kosbaar beskou is, is uit die grafte verwyder en talle geraamtes, grafoffers en ander artefakte is verwaarloos.

Die dodeakker is daarna bedek en het met tyd verlore gegaan.

Die Inrap-span het een gedeelte ontdek wat nog nooit vantevore opgegrawe is nie.

“Niemand het dit al sedert die antieke tyd gesien nie,” het Dominique Garcia, president van Inrap, gesê.

Volgens Colonna is die span ook “baie gelukkig” om ʼn geraamte te ontdek met ʼn muntstuk in sy mond. Die graf kon toe terugdateer word tot die tweede eeu na Christus.

Die uitgrawing, wat in Maart begin het, het reeds 50 grafte onthul. Alles is vir begrawing gebruik, nie verassing nie – wat ook gereeld in dié tyd voorgekom het.

ʼn Argeoloog van Inrap by die antieke dodeakker by die Port Royal-treinstasie in Parys (18 April 2023) (Foto: Thomas Samson/AFP)

Die oorskot van die mans, vroue en kinders is vermoedelik Parisii, ʼn Galliese groep mense wat in Lutetia gewoon het in die tyd toe die dorp op die oewer van die Seinerivier onder beheer was van die Romeinse Ryk.

Die geraamtes is in houtkiste begrawe, nou slegs herkenbaar weens die spykers wat gebruik is.

Meer as die helfte van die persone is langs offers begrawe soos keramiekbekers en drinkbekers.

ʼn Muntstuk is soms in die kis geplaas of selfs in die mond van die afgestorwene – ʼn algemene gebruik in daardie tyd genaamd Charon se obool. In Griekse mitologie is Charon die veerman van Hades, en die muntstuk is beskou as omkoopgeld om die siele van dodes oor die Styxrivier na die onderwêreld geneem het.

Argeoloë het ook op skoene in die grafte afgekom. Dit is uitgeken aan die klein spykertjies wat in die sole sou wees.

Colonna het gesê die skoene is “óf by die voete van die afgestorwenes geplaas of langs hulle, soos ʼn offer”.

Juweliersware, haarnaalde en gordels is ook ontdek.

Die volledige oorskot van ʼn vark en nog ʼn klein diertjie is in ʼn put ontdek waar diere vermoedelik aan gode geoffer is.

Die span beplan om hierdie keer, anders as in die 1800’s, alles uit die dodeakker te verwyder vir analise.

“Dit sal ons help om die lewe van die Parisii te verstaan deur hul begrafnisrituele, en om ʼn beter begrip te kry van hul gesondheid deur die DNS te bestudeer,” het Colonna bygevoeg.

Volgens Garcia is die antieke geskiedenis van Parys “nie algemeen bekend nie”.

Die opgrawing “maak ʼn venster oop op die wêreld van Parys tydens die antieke tyd”, het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vriendelike Frikkie ·

Hulle moet mooi kyk. Asterix en Obelix mag dalk net daar lê.. ;-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.