Antieksjiek rok vir Prinses Beatrice op intieme troue

Prinses Beatrice en haar man Edoardo Mapelli Mozzi op hul troudag. (Foto: Benjamin Wheeler/The Royal Family, Twitter)

Prinses Beatrice het ʼn lieflike antieksjiek rok vir haar troue met Edoardo Mapelli Mozzi gedra. Haar ouma, koningin Elizabeth II, het die rok vir haar geleen.

Die koningin se kleindogter en die eiendomsmagnaat het Vrydag in die koninklike All Saint-kapel by Windsor in die huwelik getree. Die 94-jarige monarg en haar man, prins Philip (99), het die troue saam met die bruidspaar se naaste familielede bygewoon.

Die paleis het gesê riglyne om die verspreiding van Covid-19 te voorkom is by die huwelikseremonie gevolg. Musiek het gespeel, maar geen sang is toegelaat nie, selfs nie toe die volkslied, “God Save the Queen”, gespeel het nie.

Die 31-jarige Beatrice het ʼn ivoorkleurige rok van tafsy deur Norman Hartnell aangehad. Die koningin het dié rok by twee geleenthede in die 1960’s gedra. Beatrice het ook die tiara gedra wat die koningin op haar huweliksdag in 1947 gedra het.

Die koninklike familie het twee pragfoto’s van die intieme troue uitgereik. (Foto: Benjamin Wheeler/The Royal Family, Twitter)

Die 36-jarige bruidegom was in ʼn elegante oggendpak geklee.

Beatrice, dogter van prins Andrew en sy voormalige vrou, Sarah Ferguson, sou aanvanklik op 29 Mei in die St. James-paleis met Mapelli Mozzi getrou het, maar die seremonie is weens die Covid-19-pandemie uitgestel.

Mapelli Mozzi, bekend as Edo, is ʼn lid van die Italiaanse aristokrasie, het BBC vroeër berig. Hy het ʼn jong seun genaamd Wolfie saam met sy vorige verloofde, Dara Huang, wat beteken Beatrice is nou ook stiefma. Sy pa, Alessandro Mapelli Mozzi, is ʼn graaf en voormalige Olimpiese skiër wat in 1972 vir Brittanje aan die Winter Olimpiese Spele in Sapporo, Japan, deelgeneem het. Sy ma is Nikki Williams-Ellis en is getroud met die beeldhouer David Williams-Ellis.

Die troue is effe oorskadu deur vrae oor Andrew se vriendskap met die Amerikaanse seksmisdadiger, Jeffrey Epstein. Die prins het die afgelope ruk alle openbare koninklike pligte laat vaar te midde van dreigemente deur die Amerikaanse owerhede dat hulle hom oor Epstein wil ondervra. Epstein is in Augustus verlede jaar in ʼn New Yorkse tronk dood voordat hy verhoor kon word.

Die koningin se tiara wat prinses Beatrice gedra het. (Foto: The Royal Family/Twitter)

Andrew verskyn ook nie in een van die twee troufoto’s wat die paleis uitgereik het nie. Die foto’s wys die pasgetroude paartjie waar hulle die kapel saam met die koningin en prins Philip verlaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rina ·

Sy het baie mooi gelyk! Elegant, klassiek en niks oordadig nie! Daar is beslis styl in eenvoud!
Baie mooi paartjie, mag hulle baie lank en gelukkig saam wees!

Ansie ·

Ek hoop hulle is baie gelukkig. Prinses Beatrice het meer as genoeg hartseer beleef agv situasies waaroor sy geen beheer het nie. Sy het regtig pragtig gelyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.