Ape kry Covid-19-inenting

Karen, een van die orangoetangs wat ingeënt is, saam met Sela ‘n siamang. (Foto: Audra Morris/San Diego Zoo Global Facebook)

Nege ape van die San Diego-dieretuin in die VSA is Vrydag in die geskiedenisboeke aangeteken as die eerste primate wat Covid-19-inentings ontvang het.

Vier orangoetangs en vyf bonobo’s het elk twee dosisse van ʼn eksperimentele entstof ontvang. Dié entstof is deur ʼn wêreldwye veeartsenykundige farmaseutiese maatskappy, Zoetis, ontwikkel wat glo spesifiek vir diere bedoel is.

Een van die ingeënte orangoetangs, genaamd Karen, het reeds in 1994 mediese geskiedenis gemaak toe sy die eerste primaat geword het om ʼn opehartoperasie te ondergaan.

Dié inentings volg nadat agt gorillas in dieselfde dieretuin onlangs die virus opgedoen het. Daar word vermoed dat die gorillas siek geword het toe hulle in aanraking met ʼn asimptomatiese personeellid gekom het, ondanks die gebruik van beskermende toerusting.

Die gorillas is egter nie ingeënt nie omdat hulle glo teenliggaampies ontwikkel het. Een bejaarde gorilla, Winston, wat kritiek siek was met die koronavirus, het herstel nadat hy met die nuutste sintetiese teenliggaampies behandel is. Net soos die entstowwe is Winston behandel met voorraad wat nie vir menslike gebruik toegelaat word nie.

Die gorilla, Winston, is met die nuutste sintetiese teenliggaampies behandel. (Foto: Ken Bohn/San Diego Zoo Global/AFP)

“Nadat die groep westelikelaagland-gorillas in Januarie siek geword het, het personeel van die San Diego-dieretuin die eksperimentele Covid-19-entstowwe ontvang om aan die ander ape in hul sorg te gee,” het Zoetis op Twitter geskryf.

Nadine Lamberski, bewaarder by die San Diego-dieretuin, het aan National Geographic gesê dat die gebruik van eksperimentele entstowwe op diere in die dieretuin egter nie in hierdie stadium die norm is nie.

“In my loopbaan het ek nog nooit so vroeg in die proses toegang tot ʼn eksperimentele entstof gehad nie, en ek het ook nog nie ʼn oorweldigende begeerte gehad om dit te gebruik nie.”

Diere in gevangenskap en ander omgewings word glo gereeld ingeënt teen verskillende siektes. Dié eksperimentele entstof is op katte en honde getoets, voordat dit aan die ape toegedien is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karel Kobus Kruger ·

Pragtig. Orangoetangs is bedreigde diere. Alles moontlik moet gedoen word om hul lewens te beskerm.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.