Apple gee (bietjie) bes oor apps

Apple se winkel vir apps. (Foto: iStock)

Ná ’n jarelange struweling tussen app-ontwikkelaars en Apple oor die tegnologiereus se kommissieheffing vir in-app-aankope, het Apple die afgelope week ’n klein bietjie skiet gegee.

Dié kommissie wat Apple hef en tot 30% kan beloop, laat maatskappye lank reeds rooi sien omdat Apple klante nie toelaat om apps van enige ander plek as die amptelike App Store af te laai nie.

“Om ’n veilige en naatlose gebruikerservaring te verseker, vereis die riglyne van die App Store dat ontwikkelaars digitale dienste en subskripsies met behulp van Apple se in-app-betaalstelsel verkoop,” het Apple gesê.

“Ons bring die verandering aan omdat ontwikkelaars van leser-apps (reader apps) nie goedere en dienste in die app te koop aanbied nie.”

Die apps wat geraak word, is dié wat vooraf gekoopte inhoud of intekening op onder meer tydskrifte, koerante, boeke, klankinhoud, musiek en video’s bied. Amazon Video en Kindle is voorbeelde van sulke leser-apps.

Dié toegewing deur Apple kom ná ’n ondersoek wat deur die Japannese Fair Trade Commission van stapel gestuur is. Apple het gesê hy sal ondernemings soos Spotify en Netflix van aanstaande jaar af toelaat om klante na hul eie webwerwe te herlei om hulle rekenings op te stel en betalings daar te doen.

Suid-Korea het boonop vandeesweek die eerste land geword om wetgewing te aanvaar wat selfoongebruikers in staat stel om sagteware-ontwikkelaars direk vir hul programme te betaal, pleks van om in-app-betaalstelsels te gebruik.

Die speletjiereus Epic Games, wat onder meer vir gewilde speletjies soos Fortnite verantwoordelik is, het juis hieroor ’n teenmededingingsaak teen Apple aanhanging gemaak.

Fortnite, wat in 2020 ’n inkomste van $5,1 miljard vir Epic verseker het, is verlede jaar uit die App Store geskop omdat hy Apple se reëls oor digitale betalings oortree het deur spelers na sy eie stelsel te herlei.

Uitspraak in dié waterskeidingsaak, waarin duisende bladsye se dokumente ingedien en vir drie weke deur regter Yvonne Gonzalez Rogers aangehoor is, word eersdaags verwag. Dié saak kan die manier waarop digitale app-winkels sake doen en Apple se topposisie as alfa in die app-ekostelsel drasties beïnvloed.

Tim Sweeney, Epic Games se grootbaas wat Apple vroeër as oorheerser beskryf het, is allermins beïndruk deur Apple se jongste (beperkte) toegewings. Hy het op Twitter uitgevaar en gesê dié “spesiale aanbod vir sommige apps is die nuutste in Apple se dag-tot-dag‑herberekening van verdeel en oorwin in die hoop om met onmededingende praktyke weg te kom.

“Apple moet iOS oopstel op grond van hardeware, winkels, betalings en dienste wat elkeen afsonderlik en op hul eie meriete meeding,” het hy geskryf.

Epic Games het vroeër vanjaar $1 miljard se bykomende finansiering bekom, waarvan $200 miljoen van Sony afkomstig was. Dié speletjiesgroep het groot treë gegee sedert Fortnite in 2017 bekendgestel is en Epic se markwaarde word op sowat $29 miljard geraam. Fortnite spog met meer as 350 miljoen aktiewe maandelikse spelers, waarvan 60% tussen die ouderdomme van 18 en 24 jaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.