Apple stel nuwe slimfone bekend

Die nuwe iPhone 8. Foto: www.apple.com

Apple het die jongste weergawe van sy wêreldbekende iPhone bekendgestel by die nuwe Steve Jobs-teater in Cupertino, Kalifornië.

Tim Cook, Apple se uitvoerende hoof, het vlugtig die nuwe slimfoon, die iPhone 8, bekendgestel terwyl ander bestuurders meer besonderhede oor die vlagskipproduk gegee het. Die iPhone 8 spog met ʼn nuwe kamera, nuwe hardeware-komponente en nuwe sagteware om die hardeware te ondersteun wat beter foto’s, video’s en speletjies beloof. Die iPhone is ook toegerus met funksies vir uitgebreide realiteit (augmented reality).

Soos altyd sal daar ook ʼn iPhone 8 Plus beskikbaar wees.

Phil Schiller, Apple se senior vise-president van wêreldwye bemarking, stel die nuwe iPhone X in Cupertino, Kalifornië bekend. Foto: Xinhua

Volgens Apple sal die ontwerp van die iPhone 8 meer duursaam as ooit wees en in silwer, goud en ruimtegrys beskikbaar wees. Die slimfoon is ook mikroskopies verseël om water- en stofbestand te wees, terwyl dié iPhone draadloos gelaai kan word. Vanaf volgende jaar sal die Airpower Mat ook beskikbaar wees waarmee ʼn iPhone, Apple-horlosie en AirPods draadloos gelaai kan word.

Die iPhone 8 se “True Tone”-tegnologie pas aan volgens die lig rondom jou sodat voorwerpe en kleure op die skerm beter en duideliker vertoon. Die 12MP-kamera kom met ʼn nuwe kleurfilter, ʼn groter en vinniger sensor en verbeterde beeldstabilisering vir foto’s en video’s.

Die iPhone 8 en iPhone 8 Plus sal toegerus wees met die nuwe A11- bioniese skyfie, wat volgens Apple die kragtigste skyfie in hedendaagse slimfone is.

Tim Cook, Apple se uitvoerende hoof, stel die nuwe Apple-horlosie in Cupertino, Kalifornië bekend. Foto: AP Photo/Marcio Jose Sanchez

Apple het ook die iPhone X, wat as “iPhone 10” uitgespreek word, bekendgestel. Hierdie weergawe van die slimfoon is bietjie verder verwyderd van die vorige weergawes van die oorspronklike iPhone en die voorkant bestaan heeltemal uit ʼn skerm. Die slimfoon kan ook draadloos gelaai word en is soos die iPhone 8 ook water- en stofbestand.

Die slimfoon het ʼn funksie genaamd “Face ID” waarmee die gebruiker die slimfoon met sy gesig “oopsluit”. Apple belowe Face ID is so veilig, die gebruiker kan dit selfs gebruik om betalings mee te maak. Die funksie is ook só ontwerp dat dit mettertyd aanpas by die veranderinge in jou voorkoms.

Die iPhone X is Apple se antwoord op die groot afwagting dat die maatskappy met iets spesiaals vorendag gaan kom vir die slimfoon se 10de herdenkingsjaar. Steve Jobs, die voormalige uitvoerende hoof en Cook se voorganger, het op 9 Januarie 2007 die iPhone as “ʼn rewolusionêre produk” bekendgestel.

Die iPhone 8 (64 GB) sal vanaf $699 beskikbaar wees, terwyl die iPhone 8 Plus (64 GB) vanaf $799 verkoop sal word. Vir die iPhone 8 256 GB sal gebruikers vanaf $849 moet uithaal, terwyl die iPhone 8 Plus 256 GB vanaf $949 verkoop word.

Binne die Steve Jobs Teater in Cupertino, Kalifornië waar Apple Dinsdag (12 September 2017) sy nuwe produkte bekendgestel het. Foto: Xinhua

ABC News berig vooraf-bestellings vir die nuwe iPhone sal vanaf 18 September beskikbaar wees en teen 22 September te koop wees. Dit is egter nog nie duidelik wanneer die nuwe fone in Suid-Afrika beskikbaar sal wees nie.

Die iPhone X sal gebruikers so ʼn bietjie meer uit die sak jaag – vanaf $999 vir die 64 GB en $1 149 vir die 256 GB.

Apple het ook die nuwe Apple TV en Apple Horlosiereeks 3 bekendgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.