Apple stel peperduur virtuele realiteit-bril bekend

Apple se Vision Pro-bril is vandeesweek in Kalifornië bekendgestel. (Foto: Josh Edelson/AFP)

Die tegnologie-reus, Apple, het die week hulle nuwe virtuele realiteit-bril bekendgemaak en dit sal jou ʼn allemintige $3 500 (sowat R67 250) uit die sak jaag.

Nadat daar jare lank bespiegel is oor dié produk, het Apple eindelik die Vision Pro-bril Maandag tydens die organisasie se jaarlikse ontwikkelaarskonferensie by hul kampus in Cupertino, Kalifornië, in die VSA, vir gebruikers gewys.

“Hierdie is die begin van ʼn reis wat ʼn nuwe dimensie sal gee aan kragtige persoonlike tegnologie,” het Tim Cook, uitvoerende hoof van Apple, gesê.

Alhoewel hierdie toestel vanjaar reeds bekendgestel is, sal dit eers in 2024 op die mark wees.

“Dit is ʼn indrukwekkende stuk tegnologie, maar dit was amper net so ʼn voorsmakie. Dit lyk na die begin van ʼn baie lang pad,” het Tuong Nguyen, Gartner-analis, oor die nuwe toestel gesê.

Die bril gaan nie bloot gebruik word om virtuele wêrelde mee te verken nie, maar sal dien as ʼn televisie, ʼn indrukwekkende klankstelsel en ʼn kamera in een. Dié ingewikkelde samestelling van die produk het bygedra tot sy prys.

Die toestel is maar een van die talle produkte wat deur die jare heen deur dié tegnologiereus ontwerp is. Dit val in dieselfde kamp as hul rekenaars, fone, musiektoestelle en oorfone.

Die Vision Pro sal beskik oor 12 kameras, ses mikrofone en ʼn verskeidenheid van sensors om hand- en oogbewegings te bespeur. Apple het verbruikers ook verseker dat dit nie hoofpyne of naarheid sal veroorsaak soos wat soortgelyke toestelle in die verlede gedoen het nie.

Bykomende bron: AP News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Faraway ·

Nê . . . en oor 10jaar is daar miljoene met oë probleme of rug probleme
a APPLE a day gaan nie noodwendig die DR weghou nie

George ·

Nee wat kinders het vroeer jare net so teen die skerms gesit, swakker quality ook nog, en hulle is nog oraait. Hulle het ook tussen rook orals groot geword. So n bietjie VR is niks.

Miskruier ·

Gaan hou n regte vakansie en bêre daai herinneringe diep in jou brein.

Martin ·

Dalk moet CR vir hom ook een van die nuwe Apple virtual brille aanskaf sodat hy kan sien in watter gemors Eskom is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.