Arbeidersparty sê regering moet Assange beskerm

Julian Assange (20 Desember 2012) Foto: AP Photo/Kirsty Wigglesworth

Sleutelfigure in Brittanje se Arbeidersparty het Vrydag gesê die regering moet die uitlewering van Julian Assange, stigter van WikiLeaks, aan die VSA teenstaan.

Amerikaanse owerhede wil hê Assange moet aan dié land uitgelewer word om tereg te staan op aanklagte wat verband hou met sameswering om ʼn Pentagon-rekenaar te kuberkraak.

Jeremy Corbyn, leier van die Arbeidersparty, het in ʼn twiet gesê die VSA wil Assange laat uitlewer omdat hy “bewyse van gruweldade in Irak en Afghanistan” onthul het. Diane Abbott, die party se woordvoerder vir binnelandse sake, het gesê Assange se uitlewering moet op grond van menseregte geweier word. Sy het gesê die VSA se saak teen Assange gaan oor hul “vernedering oor die dinge wat hy aan die lig gebring het oor die Amerikaanse weermag en veiligheidsdienste”.

Assange se saak het wêreldwyd aandag getrek, maar mense is verdeeld oor wat met hom moet gebeur. Sommige bestempel hom as ʼn dapper fluitjieblaser wat opstaan teen regerings, terwyl ander hom veroordeel as ʼn gewillige swaap wat die Russe gehelp het in hul veldtog om pres. Donald Trump se presidensiële veldtog aan te help.

Trump het in 2016 WikiLeaks geloof en sy bekendmaking van Hilary Clinton se veldtog-e-posse verwelkom.

Assange word waarskynlik deur ʼn titaniese stryd in die gesig gestaar om sy uitlewering aan die VSA te beveg – en moontlik binnekort ʼn tweede uitleweringsversoek van Swede om daar op aanklagte van verkragting tereg te staan.

Die Britse polisie het Assange Donderdag in hegtenis geneem ná Ecuador besluit het om die politieke asiel te herroep wat byna sewe jaar gelede aan hom toegeken is. Ecuador se president, Lenin Moreno, het gesê hy het dié stap gedoen weens “herhaaldelike oortredings van internasionale konvensies en daaglikse lewe”.

Nadat Assange in hegtenis geneem is, het die Amerikaanse departement van justisie die aanklag teen hom aangekondig en gesê owerhede wil hom na die VSA laat uitlewer. Indien Assange skuldig bevind word, kan hy ʼn maksimum van vyf jaar agter tralies deurbring.

Kristinn Hrafnnson, Julian Assange se woordvoerder, tydens ‘n onderhoud met die Associated Press in Londen (12 April 2019). (Foto: Alastair Grant/AP)

Assange het in 2012 toevlug gesoek in die Ecuador-ambassade ná hy in Engeland vrygelaat is op borgtog terwyl hy aan Swede uitgelewer sou word op aanklagte van seksuele aanranding. Hy het byna sewe jaar lank in die ambassadegebou gewoon.

Sweedse aanklaers het die saak teen Assange in 2017 laat vaar en destyds gesê daar is geen vooruitsig om hom na Swede te bring nie weens sy beskermde status binne die ambassade. Die bewerings teen hom, wat deur twee vroue gemaak is, is nog nie by ʼn hof ingedien nie en Assange ontken dat hy enigsins oortree het.

Regter Michael Snow het Assange Donderdagmiddag behoorlik die kop gewas oor die oortreding van sy borgtogvoorwaardes tydens sy eerste hofverskyning in Londen. “Mnr. Assange se gedrag is dié van ʼn narsis wat nie verby sy eie selfsugtige belange kan kyk nie,” het Snow gesê.

Assange se volgende hofverskyning sal via ʼn videoskakel uit die tronk plaasvind in verband met die uitleweringsaak, ʼn proses wat etlike jare kan neem om af te handel.

Uitleweringsprokureur Ben Keith het gesê die hof sal in dié saak nie die bewyse teen Assange oorweeg om sy skuld of onskuld te bepaal nie, maar bloot oordeel of die beweerde oortreding in die VSA ook in Brittanje ʼn misdaad sou wees. “Die mees waarskynlike uitkoms is dat hy na die VSA uitgelewer sal word,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

John ·

Brittanje soek nou dringend ‘n weerligafleier.. of -lyer… Kies self. Dis verby met die eielandjie. En raai die spul dwase het dit op hul eis bewerk… al die skade en skande en dood wat hierdie groepie darem regoor die planeet bewerk het… Wie gaan die black comedy daarna vervaardig? Julian verteenwoordig die ultra-verklikker wat die geheime adder in die bors… wil vrylaat. Die Arbeiders, skreeuende bedorwenes, hoop om op diè wyse shine te vang met polish… Gaan hùlle die eina-landjie regop hou? … oy!

gatiep ·

Johan daar is baie goed wat jy kwytraak op maroela waarvan ek verskil van jou.
Die een kon hy nie beter gestel het nie.100% met jou.
Almal kan sie wie die UK werklik is en sonder die UK kan die klomp wat ons koppe wil afkap nie bestaan.

Chrisi ·

Ek stem saam dat Julian nie uitgelewer moet word nie. Vermoed hy’t nog klomp goed wat die wereld sal skud, weggesteek vir sy eie beskerming en : onderhandeling”.

Trump het Wikileaks opgehemel tydens sy verkiesingsveldtog, en nou beweer hy , hy weet niks van Assange of Wikileaks nie. Sies!!

As Julian saam met iemand gewerk het, sou dit eerder die Zionistiese (Trump ondersteuners) en minder waarskynlik die Bush-bewegings gewees het as die Russe … maar dis ‘n groot “as”, wat verbrande hout mag wees

Ronnie ·

Dis reg Chrisi. Sowat 141 keer het Trump Wikileaks opgehemel tydens sy verkiesingsveldtog. “Wikileaks, we love Wikileaks!” En nou: “Wiki Who?” Lenin Moreno Is korrup en in teenstelling met sy voorganger is hy pro-VSA. Daar is ook geld op die spel. Hy kan nie fluitjieblasers wat op vrye voet is bekostig nie. Hierdie is myns insiens ‘n boodskap van die Trump regime aan joernaliste en fluitjieblasers. Die klag teen Assange is net diefstal van inligting nege jaar gelede. Dit is tans net ‘n bewering. Publikasie van inligting en fluitjieblaas is nie onwettig nie.

Andreas ·

Aha, miskien moet hy in Nkandla se bunker kom skuil, nou dat die Gaddafi-miljoene verskuif is, is daar mos weer plek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.