Aretha Franklin se oorsaak van dood bekend

Aretha Franklin op die verhoog tydens die wêreldbekendstelling van “Clive Davis: The Soundtrack of Our Lives” by Radio City Music Hall in New York (19 April 2017). Foto: Charles Sykes/Invision/AP, File

Aretha Franklin se familie het bevestig die sangeres is aan pankreaskanker dood.

Die 76-jarige Franklin is Donderdagoggend (09:50 Amerikaanse tyd) by haar huis in Detroit in die VSA oorlede. Franklin was tuis, omring deur haar geliefdes, ten tyde van haar dood. Daar is vroeër dié week berig sy is ernstig siek.

Volgens Franklin se familie was haar pankreas- neuro-endokriene kanker in ʼn gevorderde stadium. “In een van die donkerste oomblikke van ons lewe het ons nie die gepaste woorde om die pyn in ons harte te beskryf nie. Ons het die matriarg en rots van ons familie verloor. Die liefde wat sy vir haar kinders, kleinkinders en nefies en niggies gehad het, het geen perke gehad nie.

“Ons is diep geraak deur die liefde en ondersteuning wat ons van nabye vriende en ondersteuners van reg oor die wêreld ontvang het. Dankie vir julle omgee en gebede. Ons het julle liefde vir Aretha beleef en ons vind troos wetend dat haar nalatenskap sal voortleef.”

Die familie het vir privaatheid gevra in dié moeilike tyd. Begrafnisreëlings sal later bekend gemaak word.

Franklin, wat bekend was vir treffers soos “Respect”, “I Say a Little Prayer” en “Natural Woman”, het tydens onderhoude ʼn paar jaar gelede ontken dat sy kanker het.

Franklin het verlede jaar haar aftrede aangekondig en gesê sy sal slegs by nog ʼn paar spesiale geleenthede optree. Sy het wel vroeër dié jaar voorafbeplande vertonings gekanselleer omdat sy deur haar dokter aangeraai is om eerder tuis te bly en te rus.

Franklin is die eerste vroulike sanger wat in die Rock and Roll Hall of Fame ingesluit is en het in 2005 die Amerikaanse Vryheidsmedalje ontvang.

Sy het 18 Grammy-toekennings oor haar loopbaan van meer as ses dekades ontvang, insluitend ʼn Grammy vir lewenslange bydrae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.