Ariana Grande-bloedbad: Selfmoordbomaanvaller se naam bekend

Argieffoto: Ariana Grande

Die Islamitiese Staat (Isis) het Dinsdag beweer een van sy “soldate” is verantwoordelik vir die dodelike aanval tydens die popster Ariana Grande se konsert in die Manchester Arena in Engeland Maandagaand waartydens 22 mense in ʼn bomontploffing dood is.

Konst. Ian Hopkins, Manchester se polisiehoof, het die 22-jarige Salman Abedi bekend gemaak as die moontlike selfmoordbomaanvaller, maar wou geen verdere inligting oor hom verskaf nie.

ʼn Senior Europese intelligensiebeampte het gesê die aanvaller was ʼn Britse inwoner met ʼn Libiese aksent.

Isis se bewering kom midde ʼn grootskaalse ondersoek deur Britse owerhede om te soek na nog moontlike medepligtiges ná een van die ergste terrorisme-aanvalle wat die land in meer as ʼn dekade beleef het.

Isis het geen verdere inligting oor die aanvaller bekend gemaak nie.

Die groep se semi-amptelike nuusagentskap, Amaq, het vroeër in ʼn verklaring gesê die ontploffings was die gevolg van ploftoestelle wat tussen die skare by die arena geplaas is. Die verklaring beweer egter 70 mense is beseer en 30 mense is in die aanval dood. Die Britse owerhede het bevestig dat 22 mense in die aanval dood is en 59 beseer.

Isis het gesê die aanval is uitgevoer om “god se geloof te wreek” en om niegelowiges te terroriseer en te vergeld vir hul aanvalle teen die lande van Moslems. Die terreurgroep het beloof om nog aanvalle uit te voer.

Die Britse polisie bevestig nog ʼn man (23) is in verband met die bomaanval in hegtenis geneem. Die polisie het gesê hy is by die stad se Arndale-winkelsentrum aangekeer, maar “daar word nie tans vermoed dat hy met gisteraand se aanval verbind word nie”. Volgens berigte is die winkelsentrum Dinsdagoggend vlugtig ontruim.

Maroela Media het vroeër berig die ontploffing het omstreeks 22:30 deur die arena geruk kort nadat die Amerikaanse sangeres Ariana Grande opgetree het. Die skare was glo besig om die arena te verlaat toe dit gebeur het. Talle video’s is later op sosiale media gedeel waarin gesien kan word hoe mense huilend en skreeuend uit die arena hardloop.

Theresa May, die Britse premier, het die voorval vroeër as ʼn “afskuwelike terreuraanval” bestempel. Sy beplan om Manchester Dinsdag te besoek, terwyl Andy Burnham, die stad se burgemeester, beplan om 18:00 vanaand ʼn nagwaak vir die slagoffers te hou.

Die polisie het vroeër gesê van die oorledenes is kinders, onder wie Saffie Roussos, ʼn agtjarige meisie. Altesaam 12 van die beseerdes is kinders onder 16 jaar.

“Dit is een van die ergste terreurvoorvalle wat ons nog ooit in die Verenigde Koninkryk gesien het,” het May gesê. “Hoewel dit nie die eerste keer is dat Manchester op so ’n manier moes ly nie, is dit die ergste aanval wat die stad nog ooit ervaar het en die ergste wat die noordelike gedeelte van Engeland nog getref het.”

Talle leiers van oor die hele wêreld, onder wie Wladimir Poetin, Rusland se president, Angela Merkel, Duitse kanselier, en pous Franciskus, het hul medelye met Brittanje betuig.

Pres. Donald Trump van die VSA het die mense agter die aanval “bose verloorders” genoem. “Ek sal hulle nie monsters noem nie, want hulle sal van daardie term hou,” het hy gesê. Hy het voorts gesê so baie “jong, mooi mense” het hul lewe in die sinnelose aanval verloor.

Grande het ook Dinsdag op Twitter reageer en gesê sy is “gebroke” deur die nuus van die groot sterftal. “Ek kan met my hele hart sê, ek is so, so jammer. Ek het nie woorde nie,” het sy op Twitter gesê. Sy is nie in die aanval beseer nie.

Sy het die res van haar toer gekanselleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Boerseun

‘n Hele beweging gebaseer op godsdienstige geloof en sienings. Dis nie die eerste godsdienstige groep wat oorlog voer en terreur saai nie.
Wanneer gaan die mensdom verlos word van die waan oor gode en sogenaamde voordele wat geloof in gode bied, soos ‘n ewige lewe? Of die vrees vir ‘n hel? Wanneer gaan die mensdom besef dat gode soos Allah, Brahmaan, Elohim, Horus, Jehowa, Jupiter, Krishna, Rahman, Shaddai, Yahweh of Zeus en al die duisende ander net mensgemaakte idees is? Gelukkig is beskaafde, ontwikkelde en intellektuele Europeërs besig om hierdie bygelowe af te skud.

Allan

Amerika, Engeland, Frankryk, Duitsland en Israel moet dalk uit die Middle Ooste bly. Hulle het al alles vernietig in Irak, Iran, Afganistan, Libia, Yemen, en nou Siria en Somalie. Dit is om beheer te kry oor die lande olie bronne, olie en gaspylyn, om die Petro dollar in stand te hou en wapen te verkoop. 60%+- van die stedelike geboue is al vernietig. Wat moet die mense doen in ‘n oorlog geteistered gebied wat daagliks met bomme bestook word. Bv onder Obama se administrasie tydperk is daar 51,000 bomme in die midde Ooste afgeskiet. Maw hoe kan die mense werk,… Lees meer »

Uncle Buck

Boerseun, ek wonder maar net vir wie sê jy dankie vir jou seëninge en reën wat op jou plaas val, indien jy ‘n boer is, of dalk net vir al die guns wat jou pad langs kom. Dalk as jy ‘n studie maak sal Yahweh vir jou meer betekenis kry.

Kapenaar

Boerseun……. ek is bevrees, jy is in vir ‘n helse verrassing!!!! sterkte!

Callie

Gee nie om of vir geloof of watter rede ookal. Om onskuldige kinders so te vermoor. Miskien is dit tyd om hierdie lande wat isis en ander rerreurgroepe ondersteun plat te vee niks oor te los nie.